Die regspanne wat namens Vinpro en die nasionale regering optree, het gister hul argumente in die Wes-Kaapse hooggeregshof aan waarnemende regter Noluthando Nziweni voorgelê, waarna sy uitspraak in die saak voorbehou het.

Mnr. Rico Basson, bestuurshoof van Vinpro, sê hulle hoop op ’n gunstige uitkoms vir die aansoek. “Ons wag gretig op die uitspraak oor hierdie belangrike beginsel wat besluitneming rondom ’n toekomstige verbod op wynverkope sal bepaal.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is op die rand van ’n afgrond nadat sy inkomste die afgelope 16 maande verskeie kere onderbreek is. Vir elke week wat verbygaan, word die moontlikheid groter dat nóg meer wynverwante ondernemings hul deure sal sluit en duisende werknemers sal sukkel om hul gesinne te onderhou.”

Volgens Basson was regsaksie Vinpro se enigste opsie omdat die wynbedryf die afgelope 16 maande, waartydens daar vir 23 weke nie handel gedryf kon word nie, geprobeer het om met die nasionale regering in gesprek te tree. Dié pogings was egter onsuksesvol.

Vinpro se aanvanklike hofsaak oor die drankverbod sal van 23 tot 26 Augustus in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor word.