Luidens die verslag kon Distell ten spyte van drankverkope wat telkemale verbied is, in dié tydperk daarin slaag om danksy onder meer die sterkte van die kanale na die mark in Suid-Afrika, asook sy handelsmerk, verdere markaandele reg oor alle kategorieë te wen.

Gevolglik kon die groep daarin slaag om winste en volumes met onderskeidelik 29,4% en 28,7% te laat groei vergeleke met die ooreenstemmende vorige tydperk. Dit verteenwoordig ’n 5,8%-verbetering in winste en 3,5%-afname in volume verkope vergeleke met die 2019-boekjaar, dus voor die covid-19-pandemie.

Weens die herhaaldelike drankverbod het Distell ’n verlies van 20% in die hoeveelheid handelsdae in die huidige tydperk beleef.

Luidens die verslag is Distell se internasionale bedrywighede sedert die pandemie nadelig geraak weens die uitwerking wat dit gehad het op kleinhandelverkope wat globaal vervoer kan word. Daar was ook knelpunte met die uitvoer van die handelsmerk Amarula en wyn na markte buite Suid-Afrika.

Die groep kon daarin slaag om sy verliese te herwin deur die klem op sleutelmarkte, premie-spiritus en ’n toename in verkope deur digitale kanale. Te danke hieraan word ’n 10%-toename in winste uit internasionale bedrywighede vergeleke met die vorige tydperk verwag.

Distell verwag dat sy winste en volumes in die huidige boekjaar met onderskeidelik 26,3% en 26,2% sal toeneem vergeleke met die vorige boekjaar. Dit verteenwoordig ’n toename van 7,7% in winste en afname van 2,1% in volume vergeleke met die 2019-boekjaar. Na verwagting sal Distell se verdienste voor rente en belasting verbeter tot na aan die vlakke voor covid-19.

Die groep het ook daarin geslaag om sy netto skuldposisie van R5,9 miljard aan die einde van die vorige boekjaar tot R2,3 miljard te verminder.

Impak van onluste

Distell het verskeie van sy persele gesluit tydens die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng, wat nou weer heropen is. Die skade aan een van sy verspreidingsentrums in KwaZulu-Natal word op R100 miljoen geraam. Bykomende veiligheidsmaatreëls is by al Distell se persele getref.

“Ons sal voortgaan om al ons kliënte, wat buiten die drankverbod ook deur die onluste geraak is, te help om hul besighede te herbou en hulle te ondersteun namate handel hervat word. Die groep het tans voldoende voorraad om ons kliënte te steun wanneer verkope weer toegelaat word.”

Gevolge van verbod

Luidens die verslag het die bedryf al herhaaldelik gewaarsku en met behulp van navorsing daarop gewys dat ’n verbod op drankverkope tot sluikhandel lei, veral wat misdaadsindikate betref. “Die onlangse onluste toon die rampspoedige gevolge wat sindikate op hul omgewings het, waar armoede en werkloosheid reeds deur die pandemie vererger is.”

Die verslag dui aan dat onwettige drankverkope tot 22% van die totale markvolume in Suid-Afrika toegeneem het, met geskatte verkope van R20,5 miljard. Dit het die staatskas al R11,3 miljard aan  belastinginkomste gekos.

“Ons raam dat 332 van ons direkte en indirekte kliënte  deur die onlangse onluste geraak is. Dit vermeerder die hoeveelheid drank wat nou in onwettige hande beland het en gelisensieerde klein- tot medium-ondernemings van toekomstige verkope ontneem.”

Luidens die verslag is daar swak regverdiging vir die vierde verbod op drankverkope, wat sonder waarskuwing en sonder konsultasie met die drankbedryf op 27 Junie aangekondig is. “As ’n bedryfsgroep is ons voortdurend in gesprek met besluitnemers om alternatiewe oplossings te vind.”

Die sektore wat deur die drankbedryf gesteun word, wat die landbou-, toerisme- en vermaaklikheidsektor insluit, dra normaalweg luidens die verslag R1,3 miljard weekliks tot belasting by. Distell self gee 60c van elke rand wat dit verdien as belasting vir die regering.

“Hierdie belasting, en verwante indiensneming, is noodsaaklik vir ons land se herstel, nie net van die pandemie nie, maar ook die onlangse onluste. Herstel, en die rol wat ons bedryf daarin moet speel, is nou noodsaaklik.

“Ons sal voortgaan om met die regering in gesprek te tree om ’n meer samewerkende en deursigtige manier te vind om praktiese en doeltreffende oplossings te vind, onder meer ’n sterk klem op die bevordering van verantwoordelike drankverbruik.”

Volgens Distell is een van sy belangrikste planne om die taverne-gemeenskap te steun en saam met sy vennote in die taxibedryf te werk om te verseker dat covid-19-veiligheidsmaatreëls nagekom word. Die groep sal ook inentings bevorder sodat kudde-immuniteit bewerkstellig en ekonomiese bedrywighede hervat kan word.

“Ons het begin om sommige van ons persele in inentingsentrums vir ons personeel te omskep. Dit sal ook vir die publiek oopgestel word indien die regering ons aansoek  daarvoor goedkeur.”

Hofaksie teen drankverbod

Intussen sê SAB, wat tans geen bier brou nie, hy is teleurgesteld dat die Wes-Kaapse hooggeregshof gister sy dringende aansoek om die opheffing van die drankverbod met koste van die hand gewys het.

“Soos ons die afgelope weke gesien het, is onwettige drankhandel in Suid-Afrika ’n betreurenswaardige en voorspelbare gevolg van die verbod. Ons sal aanhou om deur regsaksie te baklei vir almal wat staatmaak op die drankbedryf, onder meer werknemers, boere, kleinhandelaars, taverne- en restauranteienaars, asook eienaars, bestuurders en verskaffers.”

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het uitspraak voorbehou in die wynbedryfsorganisasie Vinpro se aansoek om ’n dringende tussentydse interdik wat mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse premier, in staat sal stel om af te wyk van die nasionale verbod op alkoholverkope. Daarvolgens sal Winde kan besluit om drankverbruik in die Wes-Kaap op persele of om dit weg te neem vir verbruik tuis, toe te laat.