Meyer sê innoverende maniere moet oorweeg word om gedurende die covid-19-pandemie en vlak 4-inperkingsmaatreëls lewens asook lewensbestaan te beskerm. Aanlyn verkope sal volgens hom nie net lewens en lewensbestaan in die wynbedryf beskerm nie, maar ook byeenkomste voorkom.

Meyer sê dit sal ook voorsiening maak vir die vervoer van wynmonsters wat voordelig vir toekomstige wynuitvoer sal wees. “Deur die vervoer van wynmonsters toe te laat, word dit makliker om ’n uitvoerlisensie te bekom. Dit steun ook die wynbedryf se volgehoue pogings om die gehalte van sy wyne te verbeter en aan kompetisies deel te neem.”

Wyn is die Wes-Kaap se derde grootste uitvoerproduk en dra 6,5% tot die provinsie se uitvoer by. Dit is daarom ’n belangrike bron van werkgeleenthede en noodsaaklik vir die provinsie se ekonomiese herstel, sê Meyer.