Mnr. Rico Basson, bestrurende direkteur van Vinpro, sê dié bedryfsorganisasie simpatiseer met die besighede en mense wat weens die onlangse gewelddadige onluste skade gely het, maar daar moet ook erkenning gegee word aan die feit dat die wynbedryf self by ’n kantelpunt is omdat sy inkomstestrome die afgelope 16 maande herhaaldelik onderbreek is.

“Baie wetsgehoorsame, belastingbetalende wyn- en toerismebesighede, veral kleiner ondernemings wat hul bes doen om die ekonomie aan die gang te hou, word deur die moontlikheid van sluiting in die gesig gestaar. Dit sal dit vir duisende werknemers moeilik maak om hul gesinne te onderhou. Intussen floreer onwettige drankhandel, wat die plundering van drankhandelaars en -verspreiders insluit.”

Basson sê dringende ingryping is nodig om die drankbedryf, wat tans op sy knieë is weens oordrewe besluite wat nie op empiriese data gegrond is nie, te herbou. Dit sluit in die verantwoordelike opheffing van die verbod op wynverkope volgens ’n risiko-aangepaste benadering wat van provinsie tot provinsie wissel.

Daarby moet wet en orde gehandhaaf word om die misbruik van drank en onwettige handel hok te slaan, terwyl bestaande regulasies geldig bly. Finansiële verligting en steun van die regering is nodig om die sektor te help herbou. Vinpro rig ook ’n versoek dat ’n samewerkingsmodel ontwikkel moet word om skade te verminder en mense se gedragspatrone te verander.

“Vinpro streef steeds dié doelstellings na. ’n Voortgesette gebrek aan konsultasie en hulp van die regering beteken ongelukkig dat ons regsaksie as ’n laaste poging moet gebruik om handel heropen te kry, asook om die sluiting van besighede en werkverliese te voorkom.”

Vinpro se aanvanklike hofsaak oor die drankverbod sal van 23 tot 26 Augustus in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor word.