Bykans 750 mense het die aanlyn bespreking bygewoon. Die ander sprekers op die paneel was me. Ntsiki Biyela, direkteur van Aslina Wines, mnr. Jean Engelbrecht van Rust en Vrede-landgoed, mnr. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, dr. Neva Makgetla, senior ekonoom by TIPS, en die wynskrywer mnr. Michael Fridjohn.

Rushton het gesê die 58 produsente by wie Distell druiwe aankoop, is reeds vir vanjaar se oes betaal om die boere met hul kontantvloei te help en hulle in staat te stel om vir volgende jaar se oes voor te berei. Hy het gesê Distell skat daar is tans ’n surplus van 300 miljoen liter wyn in Suid-Afrika.

Hy het gesê hulle is tans besig met gesprekke oor hoe vraag gestimuleer kan word deur ’n kombinasie van innovering, nuwe markte en prysverlagings. “Die druk op pryse sal uiteindelik deur die produsente gevoel word. Ons gaan met ons produsente moet saamwerk om vraag te stimuleer en die impak van die massiewe surplus te verminder.”

Rushton het gesê hulle het reeds aan die departement van handel en nywerheid voorgestel dat die wynbedryf gesubsideer word ten einde die bedryf te stabiliseer. Soortgelyke subsidies is onlangs in Australië aangekondig waar wynprodusente ook met ’n groot surplus wyn sit.

Volgens hom kan ook oorweeg word om die surplus wyn te distilleer en ander vorms van drank of selfs saniteerder daarvan te maak sodat daar meer opbergruimte vir volgende jaar se oes is.

Boere se opsiesEngelbrecht het gesê een van boere se opsies is om hul deure toe te maak. “Dit is egter nie vir ons ’n opsie nie. Ons sal ’n manier moet vind om die deure oop te hou.”

Engelbrecht het gesê tafelwyn is deel van die meeste samelewings se kultuur en is al 300 jaar deel van Suid-Afrika se kultuur. “Ons bied baie aan besoekers. Dit is ’n kulturele ervaring. Ons moet hierdie kultuur beskerm.”

Biyela het saamgestem dat opgee nie ’n opsie is nie, aangesien wyn nie net die bedryf se brood en botter is nie, maar ook van verskeie ander mense. “Samewerking en kommunikasie is noodsaaklik vir ons oorlewing.”

Onsekerheid

Basson het gesê die een woord wat die afgelope ses maande die beste opsom, is “onsekerheid”. Daar lê nou baie werk vir die bedryf voor wat by finansiering begin. “ ’n Mens wil nie hê dat die banke bekommerd moet raak nie. Daarom het ons hard gewerk om die bedryf se waardeketting te probeer stabiliseer.”

Hy het gesê dat, hoewel dit moeilik kan wees, moet aan die lewe ná Covid-19 gedink word. “As ons nie nou wingerde aanplant nie, sal dit ons oor ’n paar jaar vang.”

Volgens hom is die surplus een van die groot kwessies waarvoor hulle nou ’n plan moet beraam. “Ons sal nie genoeg plek in die kelders hê nie. ’n Mens kan daarom besluit om nie jou wingerde te snoei en vir die volgende oes voor te berei nie en die koste te bespaar, of jy moet ander oplossings daarvoor vind. Dit is wat ons nou probeer doen.”

Basson het gesê hy verwag dat baie van die wynprodusente wat tans marginale wins verdien, sal besluit om hul wingerde uit te haal. “Dit sal nie goed wees as ou wingerde as gevolg hiervan verlore gaan nie.”

Basson het gesê daar word ten spyte van die drankverbod steeds ’n miljoen bottels Suid-Afrikaanse wyn daagliks verkoop. “Ons moet ondersteun word sodat ons meer mededingend in die internasionale mark kan wees. Daarom probeer ons om ’n reddingspakket vir die wynbedryf te bewerkstellig.”

Indien jy nie die sessie kon bywoon nie, kan jy dit vir die volgende sewe dae nog aanlyn kyk. Klik hier om die sessie te kyk. - https://www.crowdcast.io/e/9fu88a95