Só het Vinpro in ’n mediaverklaring gesê kort voordat pres. Cyril Ramaphosa op die vooraand van Jeugdag die land na vlak 3 van die inperkingsmaatreëls geskuif het. Hiervolgens word alkoholverkope vir die soveelste keer beperk.

Ramaphosa het aangekondig dat die verkoop van alkohol slegs van Maandae tot Donderdae van 10:00 tot 18:00 toelaatbaar sal wees, terwyl Suid-Afrika vanaf Dinsdag (16 Junie) om middernag na inperkingsvlak 3 beweeg. Drinkplekke mag slegs tot om 21:00 drank verkoop en geen alkohol mag in openbare plekke soos op strande en in parke gedrink word nie.

Die nuwe aanklokreël sal geld van 22:00 tot 04:00. Om grootskaalse verspreiding van die virus te keer, mag nie meer as 50 mense ’n binnenshuise geleentheid bywoon nie en nie meer as 100 wanneer dit buite gehou word nie. Lokale mag ook nie meer as 50% van hul kapasiteit persone toelaat nie. Nie meer as 50 mense mag ’n begrafnis of ’n verassingsdiens bywoon nie.

Hierdie is ván die nuwe inperkingsregulasies wat Ramaphosa Dinsdagaand bekend gemaak het. Hy het gesê die inperkings is noodsaaklik omdat die statistieke van besmettings die afgelope sewe dae gemiddeld 7 500 per dag was, met hospitaalopnames wat oor die afgelope 14 dae 59% hoër was as die vorige 14 dae.
infograph vlak 3 van 16 Junie 2021
Foto: Verskaf

Wyn lewensaar

Vinpro en die res van die wynbedryf is soos Ramaphosa bekommerd oor die skielike en skerp toename in positiewe Covid-19-gevalle en verwante sterftes, en verstaan die noodsaaklikheid van drastiese maatreëls om dit aan te pak, maar die organisasie sê dis nie lewensvatbaar om ’n hele bedryf se werksaamhede te strem, terwyl doeltreffender inperkingsmaatreëls ingestel kan word nie.

Mnr. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, sê ’n kombersbeleidbenadering om wynverkope te beperk is onnodig, ongeregverdig en teenproduktief. “Dis ook tyd dat die regering nie-voldoening aan Covid-19-regulasies behoorlik polisieer. Dit help nie om streng inperkings in te stel elke keer as die gesondheidstelsel ’n krisis ervaar nie, terwyl regulasies nie afgedwing word nie. Die regering moet ook die inentingsprogram versnel. Dis die eerste linie van verdediging in ’n pandemie.”

Hy sê hulle sal met die regering skakel oor wat gedoen kan word om lewens én lewensmiddele te red.

Onwettige mark

Basson sê hulle het duidelike bewyse dat die beperking van wettige handel in wyn en ander drankprodukte die onwettige mark stimuleer. Onwettige drankhandel verteenwoordig tans 22% van die totale plaaslike drankverbruik en het sedert 2020 aansienlik gegroei. “Omdat hierdie onwettige handel buite die regering se bereik is en onbeheerd voortgaan, kan dit ’n vernietigende uitwerking op gemeenskappe hê vanuit ’n gesondheids- en maatskaplik-ekonomiese oogpunt.

“Besluite moet eerder op provinsiale vlak geneem word, en gegrond word op wetenskaplike bewyse en volgens die besmettingskoers en hospitaaltoelatings in die provinsies.”

Hy doen ’n beroep op die regering om eerder ingrypings toe te pas in gebiede waar besmettings skerp toeneem.

Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die nuwe beperkinge op die verkoop van alkohol is ’n groot kwessie vir die sektor wat reeds soveel terugslae met vorige inperkings beleef het. Die groter kwessie is die onwettige verkope wat oor naweke gaan toeneem. Dit ondermyn die regering se planne om die verspreiding van die virus te beperk.