Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, wat ’n dag lange beraad hieroor tussen die onderskeie organisasies opgesom het, het gesê almal is dit eens dat daar proaktief opgetree moet word. Die organisasies moet hulle verbind tot vorme van protes en verset.

“Dit gaan nie oor oorlogspraatjies of die opneem van wapens nie. Dit gaan oor die mobilisering van die aktiewe burgerlike samelewing deur byvoorbeeld mediaveldtogte, petisies, beswaarskrifte, briewe aan invloedryke mense soos die speaker en voorbereiding vir regstappe. Daarby moet mense hulle aansluit by veiligheidstrukture en hul eie veiligheidsones skep. Die staat se grootste taak is orde, stabiliteit en veiligheid. Daarsonder verloor hy sy bestaansreg. Daar moet ook gekyk word na protesoptredes.”

Hy het gesê Suid-Afrika gaan ’n tydperk van groot onsekerheid met groot politieke, ekonomiese en maatskaplike kwessies tegemoet. “Suid-Afrika is by ’n kantelpunt.”

Mnr. Jaco Schoeman, sameroeper van die groep, het die regering as die grootste misdaadsindikaat beskryf met die polisie wat die grootste verskaffer van wapens aan misdadigers is. “Daarom is ons by ’n keerpunt en moet ons drastiese besluite neem.”

Prof. Koos Malan van die departement publieke reg aan die Universiteit van Pretoria het gesê vir lank is geglo dat die Grondwet die stormsee kan stil. Dit is nie meer die geval nie. As dit wat strydig is met die Grondwet net toegepas word, skep dit ’n nuwe orde, soos kaderontplooiing en die staat se onvermoë om veiligheid te verseker bewys het.

Die howe kan ook nie iets daaromtrent doen nie. Die howe is onpartydig met privaat- of strafregtelike aangeleenthede, maar as dit kom by ideologie, sal die Grondwethof se uitsprake byvoorbeeld in pas met ANC-beleid wees.

Belangrike verandering

Mnr. Fred Camphor, uitvoerende hoof van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging, het gesê een van die belangrikste veranderinge in die voorgestelde wet lê in die beskrywing van die doelwit van die wet. Soos dit nou staan, gaan dit oor die grondwetlike reg op lewe en om veiligheid te bevorder. Dit word nou verander na ’n doelwit om beperkte toegang tot vuurwapens te bewerkstellig. “Dit is ’n ommekeer sonder rede hoekom die doel van die wet verander word nie.”

Hy het beklemtoon ook dat die polisie se herhaaldelike verwysing na ’n uitspraak van die Grondwethof dat dit dit ’n voorreg is om ’n vuurwapen te besit en nie ’n reg nie, nie korrek is nie. Regter Froneman het dit as ’n terloopse opmerking in sy inleiding gesê en dit was nie deel van sy uitspraak nie.

Camphor het ook verwys na verskeie ander onrealistiese voorstelle oor die wetgewing. “Daar is byvoorbeeld die vereiste dat jy vir twee jaar ’n toegewyde jagter moet wees voor jy om ’n wapenlisensie kan aansoek doen. Daar is beperking op 100 patrone, terwyl daar sportskuts is wat 4 000 patrone per jaar gebruik.

“Dan is daar ook ’n voorskrif dat by ’n aansoek ondersteunende bewys van ’n grondeienaar moet wees wat toon dat die aansoeker by hom gaan jag of aan sportskiet gaan deelneem. Ons het 44 000 lede waarvan 60% in stede woon. Dit is ’n sinlose vereiste wat net die papierwerk sal vermeerder.”

Versamelaars en sekuriteit

Hy het gesê wat versamelaars betref, is daar sowat 2 500 in Suid-Afrika en die waarde van die versamelings is sowat R750 miljoen. “Met ’n streep van die pen wil die staat dit tot niet maak.”

Die invloed op sekuriteitsdienste is ook ingrypend. “ ’n Maatskappy moet skriftelik bewys lewer dat hy oor kontrakte vir sy dienste beskik, maar hy kan kontrakte net bekom as hy gewapende wagte kan verskaf. Dit raak ’n onmoontlikheid om te bestuur. Grondeienaars met wild soos renosters sal hulle nie kan beskerm nie.”

Dr Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê as misdadigers weet almal is ontwapen, kan hulle kies waar hulle wil inbreek sonder enige kwelling of die inwoner gewapen is. Die polisie moet eerder seker maak dat die bestaande vuurwapenregister behoorlik funksioneer. Hy voorsien dat die kwessie in die hof sal draai.