Die Overberg en Suid-Kaap gaan vanjaar beter vaar met meer reën.

Die suide van die Swartland gaan beter reën kry as die noorde, maar dit lyk darem nie of die Swartland “daardie mini-droogtes” van drie tot vier weke van geen reën gaan kry nie, sê mnr. Giel Hugo, weervoorspeller van Bredasdorp.

Die rede vir die voorspelling van minder reën vir die Swartland en die Weskus is dat die fronte, wat reën bring aan die winterreëngebiede van die Wes- en Noord-Kaap, verder oos oor die land beweeg. Dit is as gevolg van ’n sterk hoogdruk oor die noordooste van die land met ’n middelpunt wat oor die Oos-Vrystaat lê, wat die fronte suid druk.

Hugo sê daar is egter ’n “hele klomp koue fronte” wat omtrent elke tweede dag inbeweeg en hulle kry dit reg om genoeg van die hoogdruk weg te kalwe dat een front elke twee weke kan reën bring.

Met fronte wat verder oos die land inkom, kry die Swartland nie noordwestewinde nie. “Elke front kom met die weste- of suidwestewind. Dis nie goeie nuus nie, want die Swartland kry nie goeie reën uit die suidweste nie. Dis minder gunstig, maar nie ’n doodskoot nie. Die gebied kry tog ’n bietjie reën.”

Die Overberg en Suid-Kaap het ’n beter kans om reën uit die suidweste te kry, sê Hugo. 

Reën dringend nodig

Intussen sê boere as die reën van begin Junie nie gou met baie meer reën opgevolg word nie, wag ’n moeilike winter op graan- en veeboere in die Wes-Kaap.

Mnr. Boeta Wessels van die plaas Karsrivier, Bredasdorp, sê hulle is dankbaar vir die 10 mm tot 15 mm wat hulle gekry het, maar sê hulle het nou baie meer reën nodig. “Ons is eintlik maar redelik in die moeilikheid. Ons is eintlik op ’n naaldpunt.” Mei was droog en in April het hulle net 25 mm gehad.

Mnr. Jan-Hendrik Human van die plaas Adowa by Protem sê die 10 mm wat hulle in die eerste week van Junie gekry het, is “beter as niks”.

Hulle het in Maart 90 mm tot 100 mm gekry, wat baie gehelp het om die ondervog aan te vul. Dit het beteken dat hulle vir die eerste keer in drie tot vier jaar in klam grond kon plant. “Dit het ons ’n beter wegspring gegee. As ons elke week so 5 mm tot 10 mm reën kan kry, sal dit goed wees.”

Hy sê die koring kom stadig op, maar die kanola lyk al mooi en die hawer en kanola- en wiekemengsel wat hy vir weiding geplant het, sal binnekort gewei kan word. Intussen voer hy nog sy skape.

Hulle is baie dankbaar vir die 6 mm tot 14 mm reën wat hulle gekry het, maar mnr. JP Bester van UD Boerdery by Moorreesburg sê hulle het meer reën verwag. “Die reën sal ons laat asem skep tot volgende week, maar dit moenie ’n lang week wees nie.”

Hulle het in Mei 32 mm in drie sarsies gekry. Die dekgewasse en die meeste van hul koring het goed opgekom, dog die koring op die brak- en kleigrond is stadiger omdat dit net nie genoeg reën nie. Hulle voer al hul skape.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.