Boskos

Mnr. Piet Simpson van Dwaalboom in Limpopo het ’n werktuig gebou waarmee hy indringerbosse fyn maal om veevoer en voerkorrels van te maak, alles sommer in die veld.

Die bos-tot-kos-werktuig is ’n alles-in-een-masjien op ’n sleepwa wat in die veld rondgetrek kan word om die dunner take van indringerbosse, soos sekelbos, fyn te maal, waarna dit met ander bestanddele, soos melassemeel en fosfaat, gemeng en aan die vee gevoer word.

Dit het ook ’n pers wat voerkorrels van die mengsel maak en ’n kragopwekker verskaf elektrisiteit om die werktuig te laat werk. Die werktuig kan 2 ton voer per dag maak. Simpson se basiese mengsel bestaan uit 80 kg melassemeel, 50 kg mieliemeel en 250 kg fyngemaalde materiaal.

Die melasse en meel maak dit smaaklik en voedsaam. Baie bosse bevat tannien wat effens giftig en minder smaaklik is. Dan kan Browse Plus (reg.no. V11013, Wet 36 van 1947) by die drinkwater gevoeg word.

boskos_PietSimpson_CharlvanRooyen

Mnr. Piet Simpson se werktuig waarmee hy voer en voerkorrels van indringerbosse maak om aan vee en wild te voer.

NAVRAE: Mnr. Piet Simpson by tel. 082 574 3792.

Voëlent en melassestroop

Mnr. Jan van Zyl, wat met Brahmane en Afrikaners by Vryburg en Olifantshoek boer, moes al in ’n droogte voëlent, wat aan bome groei, afsaag om voer aan sy beeste te verskaf.

Hy saag net ’n paar takke van elke boom af sodat die boom nie vrek nie. Vir ’n trop van 30 koeie met hul kalwers het sy werkers elke dag sewe tot agt bome se voëlent afgesaag. ’n Volwasse koei van 400 kg het 12 kg droëmateriaal per dag nodig.

Daar is egter nie soveel voer nie en die beeste moet ’n lekaanvulling kry. Toe bou hy ’n lekwiel bestaande uit ’n plastiekkonka van 200 liter wat in ’n raamwerk op sy sy op die grond lê met die boonste deel afgesny sodat ’n buiteband daarin pas.

’n Ou buiteband word deur middel van ’n as in die opening aangebring. Die konka word halfpad met ’n mengsel van 20% melassestroop, 5% ureum en 75% water gevul. Wanneer die band draai, kleef die oplossing daaraan vas en die beeste kan dit aflek.

Die beeste kom gou agter dat as hulle aan die band lek, draai die wiel in die rondte. Die melassestroop gee hulle energie om gras te soek.

So lyk die lekwiel wat met ’n melassestroopmengsel gevul word om energie aan die beeste te verskaf.

So lyk die lekwiel wat met ’n melassestroopmengsel gevul word om energie aan die beeste te verskaf.