Die gepaardgaande finansiële druk het reeds tot een likwidasie en die selfdood van ’n Namakwalandse boer gelei, volgens mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap.

“Ons is dus reeds te laat, as ek dit so kan stel, maar ramphulp kan steeds ’n verskil maak,” sê hy. “Die staatshulp van R127 miljoen in Mei tot Junie 2018 het ’n reuseverskil gemaak om produsente net weer momentum te gee deur ’n deel van hulle lammeroes te kan bemark, asook vir die herbesetting van hul kernkudde.”

Volgens Jansen kon slegs ’n klein grensgebied van die oostelike en noordelike deel van die Noord-Kaap die afgelope seisoen ’n gemiddelde reënval aanteken. “Die res het ver ondergemiddelde reënval ondervind, soos wes van Hopetown, waar slegs 150 mm van die langtermyngemiddelde van 350 mm aangeteken is,” sê hy. “Daar is plekke in die rampgebied wat die vyfde agtereenvolgende jaar 30 mm tot 50 mm teenoor ’n langtermyngemiddelde van 150 mm tot 250 mm ontvang het, wat meebring dat die huidige weidingstoestande ongelooflik swak is,” sê hy. 

Vordering

Volgens Jansen behoort die rampverklaring in die distriksmunisipaliteit Pixley Kaseme in die Sentraal-Karoogebied van Britstown, De Aar en Carnarvon eersdaags gefinaliseer te wees. Dié verwagte verklaring, met inbegrip van die distriksmunisipaliteit ZF Mgcawu (Upington), sal die tweede rampgebied in die provinsie wees.

Die verklaring van Namakwaland tot rampgebied het einde Maart vanjaar verval.

Sodra die rampverklaring afgehandel is, sal dr. Zamani Saul, die provinsie se nuwe premier, die hele Noord-Kaap tot rampgebied kan verklaar. “Dit is ’n makliker proses om die hele provinsie tot rampgebied te verklaar, want daar is slegs ’n klein deel daarvan wat tans nie rampdroogtetoestande ondervind nie,” sê Jansen.

Agri Noord-Kaap sou op 14 Junie met Saul vergader om onder meer die droogtehulp te bespreek.

Mnr. Nomandla Bloem, die nuwe LUR vir landbou, grondhervorming, omgewingsake en natuurbewaring, sal na verwagting die verklaring van die provinsiale rampgebied ondersteun.

Samesprekings is ook aangevra met mnr. Bentley Fass, hoof van die munisipale rampbestuur by die provinsiale departement van koöperatiewe regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, wat na verwagting die hulp van die nasionale rampbestuur sal moet versoek om die noodleniging oor die provinsie te help koördineer.

Gelyktydig

“Ons probeer om die proses gelyktydig op al dié vlakke te beïnvloed om die proses te versnel,” sê Jansen. Voorbrand vir die verwagte rampverklaring van die Noord-Kaap word ook deur Agri SA by die nasionale rampbestuurstrukture gedoen. Volgens Jansen is mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van landbou, ook ten volle oor die provinsie se rampbehoeftes ingelig.

Jansen het namens Agri Noord-Kaap sy waardering uitgespreek vir hulporganisasies se noodlenigingswerk in die provinsie.

“Dit bly egter die staat se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons ekonomies volhoubaar op ons plase kan produseer. Die heersende rampdroogte is siklies van aard en kan nie net aan klimaatsverandering toegeskryf word nie,” sê hy.

“Die regering sal die landboubedryf moet help om deur die drif te kom, om sodra die reën kom weer tot die land se ekonomiese groei te kan bydra. Dit is nie die geval dat ons weens klimaatsverandering ’n totale aanpassing sal moet maak en dat die Noord-Kaap nie verder tot veeproduksie sal kan bydra nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.