Die sukseskoers van dié projekte wat die departement in 2014 begin aanpak het, het met ’n geringe 0,1% verbeter vergeleke met projekte wat van 2009 tot 2013 aangepak is.

Die departement het daarin geslaag om ’n sukseskoers van 72% te behaal vir die hervormingsprojekte wat hy van 2014 tot 2019 aangepak het, het me. Beverley Schäfer, die Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, vandag aangekondig.

Die koers is bepaal deur ’n studie wat 39 aanwysers in onder meer sosiaal-ekonomiese en ekonomiese kategorieë gebruik het om die sukses van die onderskeie projekte te bepaal. Plase wat deel van die projekte vorm, is meestal in die Kaapse Wynland en Weskus geleë en bied gemiddeld ses werksgeleenthede per plaas.

Schäfer sê die departement se doelwit was om ’n sukseskoers van 70% te behaal. Die feit dat die departement ’n effens hoër syfer behaal het, bewys volgens haar dat grondhervorming tans suksesvolle besighede en boere tot gevolg het.

Hoewel die grondwetlike mandaat vir grondhervorming by die nasionale Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming lê, bied die Wes-Kaap ondersteuning aan die grondhervormingsprojekte deur die provinsie se diverse landbousektor te gebruik om finansiering, marktoegang en tegniese ondersteuning te verskaf.

Die Wes-Kaap is die enigste provinsie wat ’n onafhanklike evaluering van die hervormingsprojekte laat doen het. Die onlangse studie, asook die vorige studie is deur Kayamandi Development Services gedoen om die studies vergelykbaar te maak.

Schäfer sê die belangrikste les wat die departement uit die studie geleer het, is dat ondersteuning noodsaaklik is vir die sukses van enige grondhervormingsprojek.

Die studie het bevind dat 16% van die 105 projekte wat geëvalueer is, as “baie suksesvol” geklassifiseer kon word, terwyl 56% “suksesvol” was, 24% gesukkel het en 4% misluk het. In die vorige studie is bevind dat 14% van die projekte wat van 2009 tot 2013 aangepak is, misluk het.

Besighede

Schäfer sê dit is duidelik dat plase wat as besighede bedryf word, die grootste sukses behaal. “Boere wat aan belastingvereistes voldoen, asook noukeurig van hul finansies en produksie boekhou, sal waarskynlik suksesvolle boerderye hê.”

Sy sê hernubare energie en afvalherwinning word egter nog nie op ’n bevredigende vlak ingespan nie. In die toekoms sal die departement meer klem op die toepassing van dié praktyke plaas.

Die studie het ook bevind dat boere wat van hul eie geld in hul boerderye belê het, meer suksesvol was as boere wat dit nie gedoen het nie. Luidens die studie dien dit as ’n bewys dat begunstigdes meer toegewyd aan ’n projek is wanneer hul eie geld ook op die spel is. Meer as 30% van die hervormingsprojekte se begunstigdes het nie self finansiële bydraes tot hul boerderye gemaak nie.

Talle van die boerderye wat tans probleme ondervind, is in die Sentrale Karoo- en Eden-distrik. Baie van dié boerderye is veeboerderye. Hierdie gebiede word steeds deur die voortslepende droogte geteister en daarom was hulle minder suksesvol. “Ons het egter ook opgemerk dat hierdie boerderye nie aan alle finansiële en belastingvereistes voldoen nie en ook nie verhoudings met die ander begunstigdes gesmee het nie.”

Schäfer sê dit is verblydend dat die meeste begunstigdes meen hul lewensgehalte het verbeter, aangesien dit die belangrikste doelwit van grondhervorming is.

Mnr. Byron Booysen, wat hidroponika benut om met tamaties en kersietamaties in Kraaifontein te boer, is een van die begunstigdes en ontvang infrastruktuurondersteuning van die departement. Hy sê die ondersteuning wat hy van die departement ontvang het, het hom reeds gehelp om van die doelwitte wat hy vir die volgende vyf jaar gehad het, te bereik.

Mnr. Justice Mxokezeli, ’n begunstigde wat ’n gemengde boerdery op Bredasdorp het, sê die departement se ondersteuning het hom in staat gestel om vee, ’n belangrike komponent van sy besigheid, aan te koop. Hy beoog om in die toekoms uit te brei in die plaaslike en internasionale in- en uitvoerbedryf.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.