Die droogte in die Wes-Kaap het wyd geslaan, sê mnr. Carl Opperman, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, in ‘n nuusverklaring.

“Opkomende én kommersiële landbouers word daardeur geraak. Indien damvlakke nie vinnig styg nie, gaan stedelinge dít ook deur waterbeperkings voel.

“Agri Wes-Kaap doen ‘n ernstige beroep op alle rolspelers in die waardeketting wat die primêre landbou ondersteun, om saam met ons om ‘n tafel te sit en besin oor hoe die volgende 18 tot 24 maande bestuur moet word. Die uitwerking van die droogte gaan ‘n domino-effek op landelike dorpe, inwoners en ondernemings hê en álle vlakke van regering gaan hiervan moet kennis neem.”

Van die grootste faktore waaroor produsente min beheer het, is klimaat en die natuur. Saam met die geweldige beleidsonsekerheid wat tans met betrekking tot landbou heers, is dit nodig dat daar dieper na die huidige droogte gekyk moet word, sê Opperman.

Agri Wes-Kaap het ook ‘n ernstige beroep gedoen op munisipaliteite, waar tans gesprekke oor eiendomsbelasting aan die gang is, om dringend met die landbou in gesprek te tree, veral oor die landbou se betaalvermoë.

Koringboere in die Sandveld beleef tans een van die ergste droogtes sedert 1957 en sommige beraam hul verliese op sowat R3 miljoen per 800 ha droëland.

Die Swartland het ook tot dusver vanjaar minder as die helfte van hul gemiddelde reënval gekry en beleef een van die droogste seisoene in 75 jaar. Waar produsente twee maande gelede nog ‘n rekord-oes op die lande gehad het, het koringlande intussen groot skade as gevolg van die droë toestande gely.

In die Ceres-omgewing is damme tussen 40% en 50% vol ná een van die droogste winters in jare en boere is onseker of hulle enigsins aartappels gaan plant. Uieproduksie sal ook ingekort moet word.

Die omgewing kry gemiddeld sowat 600 mm reën, maar staan tot dusver vanjaar nog nie op 300 mm nie, met min afloopwater, sê Opperman.

* Lees ook:  El Niño bring droë, bakkende somer vir SA