Die feit dat die vallei meer as die helfte minder aartappels, blomkool, blaarslaai en broccoli gelewer het, is nie die enigste terugslag nie. Terwyl sitrusboere spook om hul sitrusboorde aan die lewe te hou, moes melkboere by Mondplaas van hul grond verkoop om die pot aan die kook te hou en die groot rekenings vir voer te betaal.

Die gebied het gewoonlik genoeg besproeiingswater, maar weens die droogte is kwotas ingekort. Die landerye waar voer gewoonlik groei, staan gevolglik nou kaal. Omdat die situasie op ’n krisis afstuur, het mnr. Tertius Meyer, voorsitter van die Gamtoos-besproeiingsraad, ’n beroep op die Departement van Water en Sanitasie gedoen om die sowat 200 boere wat water uit die Kougadam kry, se waterkwotas te verhoog van 40% tot 60% van hul jaarlikse toekenning.

“Boere kom nie oor die weg met die huidige kwotas nie, dit is heeltemal te min,” sê Meyer. “Nou moet boere besluit of hulle kontantgewasse moet aanplant, minder kontantgewasse moet aanplant, of hul plase moet verkoop en verhuis.”

Verskeie boere in die gebied het volgens hom besluit om nie te plant nie. Hy voeg by dat die reën wat verlede November geval het, veronderstel was om tot ’n “realistiese” aanpassing van die waterkwotas te lei.

Verlore werksgeleenthede

Mnr. Noel le Roux, wat in die vallei boer en die huidige situasie as “kritiek” beskryf, het reeds 40 van sy plaaswerkers afgedank en sal binnekort die moeilike besluit moet neem om nog werkers af te dank en miskien later weer in diens te neem wanneer daar meer water is.

“Dit is ’n tragedie. Broodwinners verloor hul werk en terwyl ek probeer om die gesinne wat daardeur geraak word te help, is daar net soveel wat ek kan doen met die bietjie geld wat die boerdery inbring.”

Dit is nie net die boere wie se sakke gaan swaarkry as gevolg van die kleiner oes nie. Produkte sal nou van buite dié gebied ingevoer moet word, wat beteken dat verbruikers meer daarvoor sal betaal. Le Roux sê daar is tans slegs vyf groenteboere in die gebied en “dit is nie genoeg nie”.

’n Sitrusboer, mnr. Pieter Ferreira, sê hy het ’n kleiner oes gehad en moes ook van sy plaaswerkers afdank. “Ek probeer om soveel voltydse werkers as moontlik op die plaas te hou, maar wanneer dit tyd word om die vrugte te pluk, sal minder seisoenwerkers nodig wees. My produksie het drasties afgeneem en ons gaan aansienlik minder vrugte as gewoonlik kan uitvoer.”

Albei boere stem saam dat aangesien die Kougadam tans 49,44% vol is, sal die aanpassing van waterkwotas ’n uitweg vir boere in die Gamtoosriviervallei bied. “Meer water is die enigste oplossing. Dit sal almal baat – en ter wille van werkloosheid moet dit eerder vroeër as later gebeur,” sê Ferreira.

Om ’n benarde situasie verder te vererger, waai ’n buitengewoon sterk en konstante wind in die gebied wat dit vir boere moeilik maak om minder water te verbruik. “Water is verskriklik kosbaar op die oomblik. Ons moet elke druppel so goed as moontlik benut,” sê Ferreira.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.