Volgens die Australiese nuusagentskap abc.net.au lei die voortslepende droogte daartoe dat al hoe meer boere hul kernkuddes moet verklein of teeldiere moet laat slag. 

Die droogte in onder meer Queensland maak dit onbekostigbaar om diere te voer. “Ons beweeg nou op ongekende terrein. Dit was in menseheugenis nog nooit so droog nie,” sê mnr. Ian Cullen, ’n boer van Southern Downs. “Waterpunte wat nog nooit droog was nie, het nou opgedroog. Die land is kaal weens die voortslepende droogte die afgelope vier of vyf jaar.”

Die goeie vraag in die skaapvleismark bied boere egter goeie pryse vir lammers en ouer skape. “Daar is nou ’n goeie mark vir skaapvleis, maar ons sal die geld wat ons vir slagdiere kry, benodig om hulle weer te vervang, want wanneer die reën kom sal dit baie moeilik wees om skape in die hande te kry,” sê Cullen.

Die feit dat boere hul teelskape moet verkoop, laat vrese ontstaan dat ’n tekort aan lammers in die toekoms kan voorkom.

Boere is ook bekommerd oor die beskikbaarheid van water met boorgate wat besig is om op te droog.

Só lyk die syfers

Meat and Livestock Australia (MLA), die Australiese bemarkingsorganisasie vir rooivleis en die veebedryf, se jongste vooruitskattings vir die skaapbedryf vir die res van die jaar dui daarop dat die land se nasionale kudde tot 65,8 miljoen diere kan daal. Dit is 6,8% laer teenoor Junie verlede jaar en 8,7% minder as in 2017. 

“ ’n Kleiner teelkudde en ’n swak lampersentasie in die algemeen, saam met swak weervooruitsigte vir die res van die winter, sal die lewering van lammers in die komende maande ontwrig.”

Hoewel die slagsyfers vir lammers tot dusver konstant gebly het, voorspel die MLA ’n afname van 7% vir die res van die jaar.

Die pryse van lams- en skaapvleis het die afgelope 12 maande rekordvlakke bereik weens goeie vraag uit China en Australië.

Luidens die jongste wolverslag van Australian Wool Innovation (AWI), die Australiese navorsings-en-ontwikkelingsorganisasie, het Australië ongeveer 1,48 miljoen bale wol op die 2018-’19-seisoen se veilings verkoop, wat ’n afname van 16,6% verteenwoordig. 

Luidens die veselverslag vir Junie van Abares, die Australiese buro vir landbou- en hulpbronekonomie, was daar einde Maart op ’n jaargrondslag ’n 24%-afname in die aanbod van fyn- tot mediumwol (18,6 mikron tot 22,5 mikron). Daarteenoor was daar ’n hoër aanbod van swakker superfynwol (18,5 mikron en minder). Na verwagting sal hoë hoeveelheid wol van laer gehalte verder druk plaas op die pryse van fynwol.

Die volgehoue droë toestande oor die meeste van die wolproduserende streke lei tot ’n afname in die aantal skape wat nasionaal geskeer is, asook die hoeveelheid wol wat per skaap geskeer kon word. Volgens die Abares word voorspel dat Australië se wolproduksie met ’n verdere 5,3 % in die 2019-’20-seisoen kan daal. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.