Mnr. Willem Symington, dagbestuurslid vir natuurlike hulpbronne by Agri Noord-Kaap, sê hoewel dit hier en daar gereën het, het die heersende droogte in dele van die Noord-Kaap voor 2012 begin.

Die distrik Namakwa, wat van Sutherland tot teen die Oranjerivier strek, en dele van die distrikte Pixley ka Seme en ZF Magcawu, is in Desember tot rampgebied verklaar.

Symington sê boere kan dit nie meer bekostig om voer te koop nie, of dit nou met hul eie of geleende geld is. “Die geld is op en kontantvloeiprobleme veroorsaak dat ons nie optimaal kan voer nie. Dit benadeel produksie.”

Volgens hom kry boere dit nog reg om vee markgereed te maak, maar nie van die veld af nie. “Alles word afgerond. Ons is nou op ’n punt wat ’n gusooi vrek as jy haar op die veld los. Alles moet gevoer word. Selfs die lammers moet vroeg al in die voerkraal gesit word.”

Symington sê boere in die gebied boer konserwatief. “Dit is deel van ons rampbestuurstrategie om nooit teen die volle weidingskapasiteit van die grond te boer nie.”

Lammeroes
Aan die begin van die droogte het boere hul vee verminder tot twee derdes van hul plaas se drakrag, en selfs tot die helfte namate die droogte vererger het. “Dit veroorsaak dat produksie baie gedaal het. Daar is minder ooie wat minder produktief is weens swak voedingstoestande.”

Mnr. Brand du Toit, voorsitter van die boere-unie Williston, sê hy verwag ’n swak lammeroes omdat boere nie ooie genoeg kon voer om ram te vat nie. “Ons groot moeilikheid lê nog voor, of dit nou reën of nie. Ons sal eers die ooie by die ramme kan sit as dit gereën het."

Hy sê die meeste boere woel om hul boerderye in produksie te hou, want as hulle uit is, is dit soos ’n eenrigtinghek – hulle gaan moeilik terugkeer. “As jy uitgeklim het omdat jy ál jou skape verkoop het, is dit byna onmoontlik om weer terug te kom. Dit gaan baie duur wees om weer skape te koop, en jy sal omtrent niks oorhê nadat jou voerskuld afgelos is nie.”

Mnr. Danie Jacobs, voorsitter van Agri Namakwaland, sê boere daar begin nou uitspel wat hulle gaan doen as dit teen ’n sekere datum nie begin reën het nie. “Daar is planne om skape te verkoop, boerdery te staak of ’n ander bron van inkomste te soek. Dit is die werklikheid. Jy weet mos, net die eerste boer moet weggaan, dan volg ander vinnig.”

Boere wat skape verkoop, doen dit meestal uit voerkrale. “Jy maak hom net markgereed, jy maak hom nie vet nie. Hy sit nie gewig aan nie.”