’n Dringende beroep word daarom gedoen om die provinsie tot rampgebied te verklaar.

Mnr. Retief Odendaal, DA-LUR, het ’n vroeëre versoek vir ’n rampverklaring deur die provinsiale regering herhaal. Die provinsiale regering kan deur middel van so ’n verklaring bykomende finansiering van die nasionale regering ontvang. Dit kan gebruik word om hulp te verleen aan mense wat weens die droogtetoestande swaar kry.

Volgens Odendaal het Oos-Kaap in 2011 reeds ’n voorsmaak gekry van die klimaatstoestande wat vir die provinsie voorlê met veranderinge in reënvalpatrone, hoër gemiddelde temperature, langer droogtetye en ernstige droogtes, veral in die westelike dele van die provinsie.

“Die Oos-Kaap het geen moeite gedoen om druk te plaas op die departement van waterwese om te belê in infrastruktuurprojekte wat water in die westelike deel van die provinsie sal verseker nie.”

Instandhouding

Hy sê die departement van waterwese moet verouderde infrastruktuur reg oor die provinsie opknap. Hy meen dit is ’n skande dat permanente herstelwerk aan die kanaal by Kirkwood, wat in 2017 gedurende ’n modderstorting beskadig is, eers die afgelope paar maande begin het. Die kanaal is ’n belangrike bron van water vir besproeiingsboere en die Nelson Mandelabaai.

In grondkanale in die Gariep-Visrivierskema gaan ongeveer ’n kwart van die water verlore. Die provinsie sal daadwerklik moet inspring om die waterinfrastruktuur op te knap. Daar is geen finansiële ondersteuning vir die Groot-Visrivierwaterverbruikersvereniging wat sy netwerk kanale met sy eie hulpbronne moet herstel.

Laaste water

Die provinsie is ironies genoeg deur die provinsie se premier, mnr. Oscar Mbuyane tot rampgebied verklaar weens die droogte toe die gesamentlike vlak van die damme wat water verskaf aan die Nelson Mandelabaai, op 35,55% en die Kougadam se vlak op 35,32% gestaan het.

Die Kougadam se vlak staan tans op 4,29%, met water wat binnekort nie meer beskikbaar sal wees vir onttrekking nie.

“Wanneer dit gebeur, sal die Kouga-munisipaliteit sy hoofwaterbron verloor, KwaNobuhle in Nelson Mandelabaai sal nie meer water hê nie. Boere in die Gamtoosvallei sal nie meer hul sitrusboorde kan besproei nie, wat op lang termyn katastrofiese gevolge vir die streek kan hê aangesien produserende bome verlore sal gaan.”

’n Ernstige droogte heers al die afgelope vyf jaar in die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit.

Hy voeg by dat kommersiële en opkomende boere in Willowmore, Rietbron, Steytlerville, Jansenville, Graaff-Reinet, Bedford en Tarkastad ernstige probleme met water ervaar. Boonop het baie boere hul diere vir verlengde tye gevoer en is daar nie meer spaargeld nie.

“Ons is weer in die wintermaande en dit is die droogste maande vir boere in die Karoo.”

Boere in die area se aansoeke om boorgate het tot dusver op dowe ore geval.

Geen alternatief

“Water is ons waardevolste hulpbron,” sê me. Vicky Knoetze, ’n DA-woordvoerder oor samewerkende regering in die Oos-Kaap.

Sy sê daar is verskeie dorpe in die provinsie wat tans watertekorte ervaar, sommiges wat geen water het nie, en ander dorpe het nog nooit toegang tot water gehad nie. “Ons sal ’n denkskuif moet ondergaan en besef daar is ’n waterkrisis.”