’n Droogte-opname wat Agri SA in Desember onder sy lede gedoen het, dui op krisistoestande in landelike gebiede. Van die bevindinge wat vanoggend op ’n nuuskonferensie in Centurion bekend gemaak is, is dat daar sedert verlede Januarie ’n verlies van 31 000 werksgeleenthede en skade van meer R7 miljard weens die droogte was.

Mnr. Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur, het gesê 70% van die boere wat aan die opname deelgeneem het, is onder ernstige finansiële druk en meer as 50% het aangedui dat hulle werkers sal moet aflê.

“Die ekonomiese impak is uitermatig, maar ons moet ook aan die emosionele skade dink. Mense verloor hul werk en plase sluit op ’n tyd wanneer ons juis voedselsekerheid moet verstewig en werkskepping benodig. Meer as die helfte van die boere ly onder meer aan depressie en angs weens die werklikheid van die droogte.”

Van Zyl het daarop gewys dat Agri SA se droogterampfonds sedert die einde van 2015 meer as R18 miljoen bestee het om boere, plaaswerkers en gemeenskappe te ondersteun. Hy het ’n beroep op die publiek gedoen om tot die fonds by te dra. “Dit is nie net boere se probleem nie: Dit is ’n Suid-Afrikaanse probleem. ’n Gesamentlike poging is nodig om ’n nasionale ramp af te weer. Kos- en waterskaarsheid skep ’n enorme bedreiging vir sosiaal-politieke stabiliteit in die land.”

Hy het gesê Agri SA is reeds in gesprek met verskeie belanghebbendes soos die Regering, finansiële instellings en landboubesighede. Sowat R3 miljard se ramphulp sal van die staat se kant af in die nuwe boekjaar nodig wees.

In die volgende twee weke sal noodvergaderings ook gehou word om te bepaal hoe boere en plaaswerkers in die droogtegeteisterde gebied die beste gehelp kan word. 

Perfekte storm

Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het op die nuuskonferensie gesê die vleisbedryf beleef op die oomblik ’n perfekte storm. “Dit is nie net die droogte wat knel nie. Daar is ernstige kontantvloeiprobleme weens voerpryse wat styg en vleispryse wat daal, daar is politieke onsekerhede soos onteiening sonder vergoeding, ingevoerde hoendervleis maak die bedryf seer en by dit alles is daar nou die terugslag met bek-en-klouseer wat uitgebreek het.”

Hy het daarop gewys dat speenkalfpryse op ’n jaargrondslag al met 33% gedaal het, die produsenteprys vir lamsvleis het met 15% gedaal en die prys van beesvleis met 11%. Dit word veral toegeskryf aan ’n ooraanbod. “Verbruikers sal moet help. Hulle sal ons uit die moeilikheid moet braai en eet.” 

Mnr. Dewald Olivier, uitvoerende direkteur van die Voerkraalvereniging, sê daar was oor die Kerstyd ’n bottelnek by slagplase en rekordhoeveelhede diere is geslag, wat pryse laat daal het, terwyl dit gewoonlik in dié tyd styg.

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van Graan SA, sê graanboere was in 2016 in ’n baie sterker posisie om die droogte te trotseer. “Daarna was daar wel twee goeie oeste, maar pryse was baie laag en boere kon nie finansieel herstel nie. Daar is baie boere wat dit nie gaan maak nie. Die landbou is in ’n krisis en nuwe planne is nodig.”

Hy voorsien dat daar in die nuwe bemarkingsjaar net-net genoeg mielies sal wees of dat daar moontlik ’n tekort aan geel mielies sal wees. Daar word reeds geel mielies van Suid-Amerika af vir die Wes-Kaap ingevoer, omdat dit goedkoper is as om plaaslike mielies van die noorde af te vervoer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.