Om die landboubedryf by te staan, het die Wes-Kaapse departement van landbou in die laaste kwartaal van 2018 geldelike hulp van sowat R18 miljoen aan boere in die Sentraal-Karoo verleen.

Volgens die webtuiste van die Breede-Gouritz-opvangsgebiedbestuursagentskap is die LeeuGamka-, die Gamka-, die Oukloof- en die Gamkapoortdam al sedert verlede maand leeg. Die Miertjieskraaldam is vandeesweek slegs 2% vol, en die Kammanassiedam het slegs 3% en die Floriskraaldam 4% water. Die Calitzdorpdam is 9% vol.

Koepons

Volgens me. Beverley Schäfer, Wes-Kaapse minister van landbou, het boere in die Sentraal-Karoo aanvanklik elke tweede maand koepons vir veevoer gekry. Nadat ’n veldassessering gedoen is, is egter besluit om boere in kritieke dele van die Sentraal-Karoo, asook Touwsrivier, Ceres, die Koue Bokkeveld en Prince Alfred Hamlet, maandeliks by te staan.

Die meeste van die hulp van sowat R18 miljoen van Oktober tot Desember verlede jaar was vir boere van Laingsburg en Beaufort-Wes.

Schäfer sê as gevolg hiervan het die departement se begroting die eerste keer in sy bestaan R1 miljard oorskry. Dit is volgens haar regverdigbaar, as die belangrikheid van die landboubedryf vir voedelsekerheid en die voorsiening van uitvoerprodukte in ag geneem word.

Hoewel dorpe in dié streek se krane nog nie heeltemal opgedroog het nie, moes die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering verskeie projekte van stapel stuur om te verseker dat watervoorsiening nie onderbreek word nie.

Buiten vir bykomende boorgate en die opgradering van infrastruktuur, het die departement ook ingenieurs en geohidroloë in die streek ontplooi. Die departement vergader deurgaans met belanghebbendes om medium- en langtermyn oplossings vir volhoubare watervoorsiening te verseker.

R78 miljoen

Die departement van plaaslike regering het al meer as R78 miljoen aan droogtehulp bestee, en die department het aangedui sy droogtehulp aan boere sal voortgaan.

In November verlede jaar is daar geskat dat oeste vanjaar na verwagting sowat 20% kleiner kan wees, met ’n bedryfsverlies wat deur Schäfer op sowat R5,9 miljard geraam word. ’n Groot aantal werkgeleenthede het ook in die slag gebly. Volgens Statistiek SA was daar in die tweede kwartaal van 2018 sowat 27 000 minder werkgeleenthede in die bedryf as in die eerste kwartaal.

Danksy goeie reënval kon sommige gebiede met die lang herstelproses begin.

Die Wes-Kaap se vernaamste damme is tans gemiddeld 51% vol. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.