Die droë winter se uitwerking strek reeds verder as graanboere in die Swartland en kan plaaslike ekonomieë langdurig knou, sê boere, bedryfs- en sakeleiers.

Mnr. Andries Theron, ondervoorsitter van Graan SA, sê sy konserwatiewe raming is dat in die Swartland gemiddeld ’n afname van 2 t/ha in koringopbrengs gaan wees. "Dit beteken dat ons minstens 400 000 ton méér koring sal moet invoer en die waarde daarvan aan koringboere in die buiteland afstaan. Swartlandse dorpies wat afhanklik is van die koring-ekonomie sukkel reeds met die landsekonomie wat onder druk is. Ná so ’n droë jaar is alles in die natuur uit plek."

In Darling, een van die gebiede waar landboutoestande die swakste is, word besteding reeds ingekort, sê mnr. André Kirsten van Kirsten Boerdery, Darling, en Graan SA-bestuurslid. "Dit lyk sleg hier. Met die 7 mm reën wat ons in Augustus en September gekry het, kan koring nie blom en pitte vul nie. Reën kan niks meer aan ons saligheid doen nie."

In Darling se "koppe" lyk dit bietjie beter, maar volgens Kirsten is daar boere wat vanjaar nie hul stropers gaan uittrek nie, maar hul koring gesny het om hooi te maak vir hul melkerye. Dit gaan nie ’n dreigende "voerdroogte" verhoed nie, sê Kirsten. Die produksie van hawerhooi is vanjaar maar 25 tot 50% van vorige jare se produksie. "Dit wissel baie, maar boere wat gewoonlik vyf slote vol kuilvoer maak, maak vanjaar net een en lande waar 200 bale in die verlede afgehaal is, lewer nou net 48."

Die ander groot bekommernis in sy omgewing is die uitwerking van die droë winter op die gebied se droëlandwingerde. "Die damme hier is skaars 20% vol. Ons begin gewoonlik eers in Januarie met aanvullende besproeiing, maar ek moes nou al boorgate byhuur om te besproei."

Mnr. Sean Walsh, besturende direkteur van Kaap Agri, sê die Swartland beleef een van die drie droogste winters in 70 jaar. "Oor die jare is aanplantings aangepas deurdat meer marginale gronde onttrek is uit koringverbouing, terwyl die huidige plantmetodes en praktyke ‘n groot verbetering is op die saaipraktyke van ‘n aantal jaar gelede.

“Maar ons kan nie die erge droogte wegpraat nie. Die oesopbrengs gaan aansienlik kleiner wees as die vorige jare asook die langtermyn-gemiddeldes. Dit gaan ‘n uitwerking hê op die inkomste wat Kaap Agri uit graanhantering en opberging gaan verdien, maar ook op boere se betaalvermoë en veral die vermoë om volgende jaar weer te plant."

Walsh sê hulle is ook bekommerd oor die impak van die afgelope droë winter op sekere vrugteprodusente, veral as die droogte voortduur tot volgende jaar.

Kaap Agri het in September ‘n opname by koringprodusente gedoen en die skade het toe gewissel tussen 30% en 70%. "Daar is enkele gebiede waar tot 100% skade ervaar is. Dit het en kan natuurlik vererger indien geen opvolgreën in Oktober val nie.

"Ons sal elke boere se geval op meriete hanteer en nooi hulle om betyds hulle situasie met ons te bespreek. Ons is al voorheen hierdeur, en sal weer saam met ons produsente hierdie uitdaging oorkom."