Só sê mnr. Wandile Sihlobo, hoof van landbousakenavorsing by Agbiz, oor die inkrimping van 29,2%.

Omdat die sektor se ekonomie die vorige kwartaal ook ingekrimp het, met 33,6%, is dit nou in ’n tegniese resessie.

Die inkrimping in landbou het daartoe bygedra dat die nasionale ekonomie ook in ’n tegniese resessie beweeg het deurdat dit die tweede agtereenvolgende kwartaal ingekrimp het, met 0,7%.

Sihlobo sê in ’n verklaring die landbou-inkrimping van 29,2% is heelwat groter as die 19% wat hy verwag het.

Hy sê daar was op ’n jaargrondslag ’n daling van 20% in koringproduksie, 13% in gars en 11% in kanola, en die produksie van steenvrugte en druiwe het ook gedaal.

Die laer produksie was veral in die Wes-Kaap, wat ’n groot bydrae tot die algehele landbou-ekonomie lewer.

Sihlobo verwag dat die landbou-ekonomie in die derde kwartaal kan herstel danksy die verwagte groot mielie-oes van 13,8 miljoen ton, ’n rekord sojaboon-oes van 1,6 miljoen ton, ’n groot sonneblom-oes van 858 605 ton, die verbetering van suikerrietproduksie na sowat 18,5 miljoen ton, en algemene herstel in die lewendehawesektor. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.