Die swaarkry lê vlak in die hoekie skuins onder die Kgalagadi en teenaan die Namibiese grens, met die hoofkwartier Mier. Meer as honderd inwoners en boere van die gemeenskappe tussen Askham en Rietfontein het opgetrek na ’n sentrale punt met Landbouweekblad se besoek aan die gebied.

Die 80-jarige mnr. Piet Smith, boer van Mier wat in 2015 ’n naaswenner in Voermol se Skaapboer van die Jaar-kompetisie was, sê hoewel die Kalahari-Oos-waterpypleiding wat deur die gebied loop, gebou is “vir die mense vir drinkwater en nie vir die diere nie”, maak baie boere ook daarop staat. Plek-plek is daar kort pyplyne uit hierdie groot pypleiding om sommige plase te bedien. Al die boere is egter nie só gelukkig nie.

Almal trek swaar in die langdurige droogte. “Ons gebied kry oor die algemeen min reën. In 1974 het hier baie geval – 350 mm. Daarna het dit gaandeweg gedaal en menige jaar sak net sowat 60-80 mm reën uit, en dan net kol-kol en bietjies-bietjies.”

Voorverlede jaar het dit “op die meeste 20 mm gereën”, en op ’n deel van sy grond het hy net 5 mm reën gekry. “Die vee grawe bossies uit op soek na iets om te vreet. Alles is asvaal. Hier is niks meer oor wat groen is nie. Die mense kry swaar en is net so kaal soos die Kalahariduine.”

Soos Smith het heelparty inwoners eiendomsreg, maar die meeste boer op meentgrond. Sommige mense sukkel al lank om eiendomsreg te bekom, maar daar is nie genoeg grond vir almal nie. Smith boer op meer as 9 000 ha met Dorpers in die Kalahari-duineveld.

Die omgewing het ’n langtermynreënval van slegs 150 mm per jaar. Weens die droogte is baie mense van hulp afhanklik. “Ons kry egter nie voerhulp nie. Ons sien net die voerlorries hier verbyry, ek weet nie waarheen nie, maar hulle laai niks by ons af nie. Een jaar het ons darem aartappels as droogtevoer vir ons vee gekry. Ons moes al van ons vee verkoop.”

Beeste en selfs wild vrek op ’n streep by Mier in die Noord-Kaap waar geen reën nog dié somer teen druktyd geval het nie. FOTO’S: STEVE SNYDERS

Moeg om mense te lek

Die afgetrede predikant ds. Mossie Willemse boer ook. “Ek is moeg om mense te lek om te hoor wat hier aangaan. Hulle weet mos hoe swaar ons kry, maar net die mense wat dink hulle is vooraanstaandes word gehelp. Die arm mense het hulp die dringendste nodig. Hulle mors met ons arm mense.”

Hy praat namens 45 kleinboere waarvan sommiges só arm is dat hulle net vyf bokke het. “Waar is die amptenare om vir ons te sê wat hier aangaan? Dis politiek wat ons in die gemors het. Ek is warm onder die boordjie vir hulle.”

Kort gelede was Willemse gelukkig om ’n paar ton rosyntjies as veevoer te kon koop, maar die arm mense kan dit nie bekostig nie. “Ons sit aan die kant wat nie die voorste ent van die wêreld is nie. Ek koop elke week die Landbouweekblad. Dan sien ek hoe kry ander mense droogtehulp. Ons het ook hulp nodig. As hier voerhulp kom, word dit by mense afgelaai met wie dit beter gaan. “Ons soek nie ’n talkshow oor ons mense se armoede nie, maar vra net hulp. Sê vir die megaboere hulle moet vir ons ook voer stuur,” is sy pleidooi.

Mnr. Piet Farao, ’n amptenaar van die Mier-munisipaliteit wat self meentgrond vir boerdery huur, sê die inkomste uit die verhuring van meentgrond dra nie by tot die ontwikkeling van die gebied nie. Die grond is ook te min vir al die mense. Hier is min ondergrondse water en party boere pomp water tot 20 km ver tot by hul vee.

Nog ’n boer van Mier, mev. Elisabeth du Plessis, wat 12 km buite Askham liggaam en siel aanmekaar hou, sê party boere se vee vrek weens die droogte. Hulle kry nie genoeg kos en water nie. “Ons is eintlik skaam, want dit lyk of ons altyd kerm. Maar ons vra net om ’n slag gehoor te word, en deel te wees van die boere wat voer, water en selfs watertenks kry om water in te hou.”

Soos ander boere sukkel hulle om die owerhede te oorreed om ’n pyplyn na hul plase te bou.

Ooie en hul lammers wat op kraal staan. Een van die boere van Mier, mnr. Steve Snyders, sê hulle het staatshulp in die vorm van koepons ter waarde van R2 700 ontvang, maar in sy geval was dit net genoeg vir voer vir ’n week vir sy vee.

LEË BELOFTES

Mnr. Albertus Mouton, meentboer van Klein-Mier, sê daar is 44 boere op 6 300 ha meentgrond. “Ons is al daarop gewys dat ons die grond oorbewei, maar dit kan nie anders as soveel boere ’n lewetjie op te min grond moet maak nie. Ons word baie sleg behandel en kry net beloftes van water en watertenks. Drie dae voor die laaste verkiesing is beloof ons gaan gehelp word, maar daar het niks van gekom nie.”

Hy moes self pype koop om ’n waterpyplyn te bou. Die water uit die Kalahari-Oos-pyplyn is baie duur en hy moes al die helfte van sy diere verkoop om minder water te gebruik. Mouton betaal R1 800 tot R2 000 per jaar daarvoor en vra dat hulle gesubsidieer word. “Die regte mense moet hier by ons uitkom. Ons word elke keer rondgestuur deur mense wat sê ons moet met iemand anders praat. Een jaar toe aartappels as droogtevoer uitgedeel is, het ek net een sakkie aartappels gekry en moes toe besluit watter koei dit moet kry.”

Banklenings is ook buite die kwessie omdat die grond waarop hulle boer, nie aan hulle behoort nie.

Brakwater is swak

Mnr. Daniel George, wat oos van Mier langs die grens met Botswana boer, sê die water wat hulle uit die pyplyn kry, was aan die begin aanvaarbaar. “Dit is nou só brak, jy kan nie jou tande daarmee borsel nie, maar die munisipaliteit eis ons moet daarvoor betaal.” Nou moet hy en ander boere drinkwater aanry, en hul pleidooie vir ’n ander pyplyn met beter gehalte water val op dowe ore.

Mnr. Jan de Koker vra die minister van landbou, me. Thoko Didiza, moet die Miergemeenskap kom besoek om sélf hul klagtes oor droogtehulp aan te hoor. Party boere moet water met donkiekarre aanry. Ander is só arm, hulle kan nie eens ’n donkie bekostig nie.

Een van die vroueboere op die meentgrond, mev. Magda Eyman, stel sonkrag as oplossing voor. “As iemand ons kan help om sonkrag te kry, kan ons water pomp en dit in watertenks opberg.”

Nog ’n vroueboer, mev. Mieta Tieties, sê dit sukkel, “maar al wat ons vra, is dat van die landbou se mense na ons moet kom luister. Ons wil aanhou boer. Kyk asseblief na ons vroue sodat ons ook bevoordeel word as projekte hier aangepak word.”

Navrae: Mnr. Piet Smith, 082 376 5572.