Mnr. Pieter du Plessis van SA Water Warriors sê nadat Gerrie hulle gekontak het om 35 ton sonneblomsaad vir die boere in Gamoep, ’n dorp halfpad tussen Springbok en Kliprant, aan te bied, moes hulle begin planne beraam vir die vervoer daarvan.
“Ek het weer met hom kontak gemaak om vir hom te vra om vir ons net kans te gee aangesien sy skenking basies van die ooste van die land na die weste vervoer moet word. Hy het toe vir my gesê as ek ’n vragmotor daarvoor kan kry, sal hy ’n vrag mielies ook skenk,” vertel hy.
“My mond het oopgehang. Ek het nie geweet hoe om vir hom dankie te sê nie, want 35 ton sonneblomsaad en daarby 35 ton mielies is ’n massiewe skenking.”
Daar kon toe ’n ooreenkoms met twee vragmotorbestuurders bereik word om teen ’n verminderde bedrag die skenking na Gamoep te vervoer. Dié bestuurders kon nie glo in watter slegte toestand die omgewing in Gamoep is nie. “Die bestuurder was erg ontstig. Hulle het vir ons gesê daar is níks nie.”
Du Plessis sê die boere in die gemeenskap was oorstelp van vreugde toe die skenking sy bestemming bereik. “Een van die vroue wat daar was, het vir ons ’n boodskap gestuur en gesê die voer gaan soos poeding vir die diere wees.”
SA Water Warriors beoog nog ’n uitreik na Gamoep op 29 Augustus. “Verlede naweek se uitreik het ons rekening redelik getap. Ons sit nou weer met ’n penarie om alles bymekaar te kry vir die volgende uitreik, maar ons sal enige voerskenkings by die boere van Gamoep kry, maak nie saak waar in die land dit vandaan kom nie.”
Om dit te kan doen, is hulle egter afhanklik van geld om vir die vervoer daarvan te betaal aangesien hulle boere nie ’n sent vra vir die voer nie. “Ons doen ’n beroep op boere en ander lede van die publiek om enigiets wat hulle kan, hetsy voer, kruideniersware of water, te skenk. Die boere in Gamoep het werklik niks nie.”
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier