Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, het tydens sy voorsittersrede op die organisasie se 40ste kongres in Kimberley gesê hoewel die verklaring nog in die Staatskoerant afgekondig moet word, is dit op dié datum tydens ’n vergadering van die provinsiale regering bekragtig.

“Die Noord-Kaapse landboubedryf lewer ’n bydrae tot die ekonomie van die provinsie en verdien die regering se ondersteuning wanneer natuurrampe die produsente se ekonomiese oorlewing onmoontlik maak.” Jansen het hom op sy provinsie se leiers beroep het om droogtehulp deur die nasionale regering aan alle geteisterde Noord-Kaapse boere op ’n eerlike en doeltreffende manier beskikbaar te stel.

“Dit het ’n hele jaar lank geduur voordat die provinsie en die rampgeteisterde distriksmunisipaliteite om rampdroogteverligting aansoek kon doen,” het hy gesê. “Dit dui op die ondoeltreffendheid van rampbestuur op alle vlakke van die regering waaronder die landbou moet ly.

“My medeboere in die Noord-Kaap kry swaar.”

Die rede hiervoor is die uitmergelende droogte wat opgebou het, met ’n jaarlikse reënval wat wissel van byna niks of ver ondergemiddeld oor die grootste deel van die Noord-Kaap, tot ’n vlak waar 70% van die Noord-Kaap die ergste droogte in 50 jaar beleef.

“Die Noord-Kaapse ekonomie het nog nie die volle impak hiervan beleef nie. Die ware uitwerking sal eers agterna in historiese syfers uitgebeeld kan word,” het Jansen gesê.

Die verslag van die departement van landbou se Upingtonse kantoor dui aan dat die rampgeteisterde gebiede dringend finansiële ondersteuning van R425 miljoen oor ’n tydperk van drie maande benodig. As die Noord-Kaap nie bogemiddelde reën tot Desember ontvang nie, kan dié behoefte tot R650 miljoen toeneem.

“Die ondersteuning van die nasionale regering om belastinginkomste aan te wend ten einde ’n ramp te verlig en toekomstige belastinginkomste uit die bedryf te verseker, was in 2019, ’n verkiesingsjaar, totaal afwesig. Agri Noord-Kaap het reeds in Julie en Augustus 2018 versoek dat die rampverligting van April tot Junie 2019 verleng word omdat ramptoestande voortduur.”

Volgens Jansen ondermyn probleme soos die bedreiging van eiendomsreg, en onsekerheid oor en die hoë koste van energie die winsgewendheid van die landbou, terwyl dit die risiko’s van die bedryf verhoog. “Die beperking op toegang tot nuwe watergebruiksregte trek die handrem op die provinsie se besproeiingsbedryf wat oorgehaal is om wesenlike ekonomiese groei te bewerkstelling ten opsigte van uitbreiding. Dit is tyd dat visionêre denke gestimuleer word met die oog op nuwe wateropgaarvermoë in die Oranjerivier gekombineer met potensiële energie-opwekking,” het hy gesê.

Wat die provinsie se padinfrastruktuur betref, het Agri Noord-Kaap ’n strategie van deurlopende monitering van stapel gestuur wat die departement help met die identifisering van paaie wat voorkeur moet kry met onderhoud, asook die aanmelding en terugvoering van inligting, wat wel begin vrugte afwerp.

Volgens Jansen sal Agri Noord-Kaap alle beginsels wat die vryemark-ekonomie en eiendomsreg ondermyn, teëstaan sonder om kompromieë aan te gaan. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.