Die ramptoestand is deur die Department van Samewerkende Regering in die Staatskoerant afgekondig. Die bestuur van die ramp word nou ’n nasionale verantwoordelikheid. Mnr. Des van Rooyen, Minsiter van Samewerkende Regering, het volgens berigte vroeër gesê daar is R70 miljoen opsy gesit vir hulpverlening.

Ingevolge die kennisgewing in die Staatskoerant van 13 Februarie het dr. Mmaphaka Tau, hoof van die Nasionale Rampbestuursentrum, ná ’n herbeskouing van die omvang en erns van die droogte in minstens drie provinsies besluit om dit tot ’n nasionale ramp te verklaar. Dit beteken dat die primêre verantwoordelikheid om hulpmaatreëls te koördineer en die ramp te bestuur, aan die nasionale owerhede oorgedra word.

Hy het ’n beroep op alle staatstrukure gedoen om die rampbestuursentrum te ondersteun en te versterk ten einde die gevolge van die ramp teen te werk.

Ingevolge die rampbestuurswetgewing moet alle belanghebbendes verslae voorberei en ingedien soos wat die sentrum versoek.

Mnr. Kevin Mileham, die DA se skaduminister vir samewerkende regering en tradisionele sake, het die aankondiging verwelkom, “al is dit twee jaar te laat”. Hy sê die DA pleit al twee jaar vir ’n ramptoestand. Die gevolg is dat plaaslike en provinsiale owerhede hul begrotings moes uitput om watervoorsiening aan inwoners te verseker. “Ek hoop die departement sal nou onmiddellik ramphulpgeld beskikbaar stel.”

Hy het ook die inwoners van Kaapstad geluk gewens dat hulle deur waterbesparings Dag Zero na 4 Junie kon aanskuif.