Vermeulen sê hy kry die afgelope tyd baie oproepe van boere wat soek na raad of net iemand wat sal luister. “ ’n Boer het my vroeër gebel. Hy is ouer as 60. Hy moet sy plaas verlaat en ’n hele nuwe lewe begin. Hierdie dinge kan baie moeilik wees. Daar is nie eenvoudige oplossings hiervoor nie, maar ek wil die boere aanmoedig om moed te hou.”

Vermeulen het die volgende praktiese wenke vir boere wat deur droogtetoestande geraak word:

  • Praat met ’n onafhanklike persoon wat net na jou sal luister. “Ek het in die droogte van 2015-’16 geleer dat baie boere nodig het om met iemand te praat wat nie noodwendig antwoorde of oplossings kan gee nie, maar net luister. Dis nie altyd maklik om jouself bloot te stel deur met jou buurman, ’n vriend of die predikant te praat nie. Vind iemand onafhanklik wat jy kan vertrou. Gee ook die lede van jou gesin die kans om met iemand onafhanklik te gesels. Moet nooit uit die oog verloor dat ’n droogte en die druk waaronder jy en die boerdery verkeer ook jou gesin en die mense betrokke by die boerdery beïnvloed nie.” 
  • Kry ’n tussenganger wat jou belange op die hart dra, om jou by te staan in onderhandelinge en gesprekke met jou skuldeisers. Die persoon gaan jou nie noodwendig met finansiële raad kan bystaan nie, maar kan jou ’n ander perspektief op die situasie gee.
  • Hou gereeld familievergaderings. “As dit nie deel van jul familieboerdery se praktyk is nie, stel ek voor dat julle dit dringend onderneem. Die moontlikheid bestaan altyd dat jou kinders ’n waardevolle bydrae tot die boerdery kan lewer of met idees vorendag kan kom wat julle as familie of die boerdery nodig het om deur ’n moeilike tyd te kom.”
  • Praat asseblief dringend met iemand as jy selfdood-gedagtes koester. Dit gaan nie die bestaande probleme oplos nie, inteendeel jy laat jou familie en almal om jou in ’n krisis. Niks is onmoontlik nie, al lyk dit tans of jy in ’n donker straat af loop – iewers gaan daar ’n deur oopgaan. As jy vasgevang is in die donker sonder hoop, kry aseblief hulp.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.