Die sagte, deurdringende reën het vir baie boere verligting gebring, maar dit het nie oral geval nie. Op plekke het dit min of glad nie gereën nie, sê mnr. Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes.

Die oostelike dele van die provinsie lyk aansienlik beter as die westelike dele. In die Schweizer-Reneke-omgewing is daar byvoorbeeld nog baie min geplant.

In die Molopo-gebied, in die omgewing van Tosca en Vergeleë, heers daar ramptoestande.

“ ’n Mens kan nie glo hoe dit daar lyk nie. Die beeste is maer en vrek,” sê Du Toit.

Ramptoestande heers in die Molopo-gebied in Noordwes, met boere se diere wat maer is en vrek, sê mnr. Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes. Foto: Agri Noordwes
Ramptoestande heers in die Molopo-gebied in Noordwes, met boere se diere wat maer is en vrek, sê mnr. Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes. Foto: Agri Noordwes
Ramptoestande heers in die Molopo-gebied in Noordwes, met boere se diere wat maer is en vrek, sê mnr. Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes. Foto: Agri Noordwes

Agri Noordwes verleen tans droogtehulp aan die gebied, maar voer is baie skaars en vervoerkoste is ’n groot probleem.

“Dit is ’n krisis. Voorheen het veral boere van Mpumalanga voer geskenk, maar hulle hou nou die nuwe groeiseisoen se voer vir hul eie gebruik.

“Skenkings vir droogtehulp is steeds noodsaaklik om boere op hul grond te hou.” 

Veeboerdery

Du Toit sê waar dit in die oostelike dele van die provinsie gereën het, is opvolgreën nou dringend nodig om ’n ramp later vanjaar te voorkom, nie net vir saaiboere nie, maar ook vir veeboere. Die ondergrond is baie droog.

“As dit van nou af min reën, gaan veeboere in die winter ’n ernstige tekort aan voer hê en in die na-winter kan ons ramptoestande kry,” sê Du Toit.

Hy sê daar is boere wat in dié laat stadium nog mielies plant, maar die tyd hiervoor is feitlik verby en boere sal dan net sonneblom kan plant.

Vir saaiboere in die warmer dele wat nou eers mielies geplant het, is daar nog redelike groeityd oor. In die kouer Hoëveld-dele is die potensiële groeiseisoen egter korter en is vroeë ryp ’n groot bedreiging.

Beurtkrag het besproeiingsboere se oeste op warm dae ernstig benadeel, veral dié wat deel is van besproeiingskemas en op spesifieke tye moet besproei.

Damvlakke in die grootste deel van die provinsie lyk volgens Du Toit glad nie goed nie.

“Ondergrondse water is ook erg onder druk.”

Gauteng

Oesvooruitsigte in Gauteng lyk nie gunstig nie, sê mnr. Thinus van Zijl, uitvoerende hoof van Agri Gauteng.

In die suidwestelike dele, soos Nigel, Bronkhorstspruit en Vereeniging, het boere einde Desember en begin Januarie redelik goeie reën gehad en daar is boere wat nou eers begin plant het.

Plek-plek het boere ook haelskade gehad, sê Van Zijl.

In die westelike dele was daar vroeg in die seisoen soveel haelskade dat groenteboere weer moes plant. Dit, tesame met min reën en beurtkrag, het hulle erg benadeel.

Van Zijl het mnr. Vito Rugani, wat onder meer met wortels en groente boer, vroeër die week besoek, en Rugani het gesê al sy oeste is sowat drie tot vyf weke laat weens baie warm dae en abnormaal koue nagte.

In die noorde van die provinsie is daar min weiding vir veeboere. Vroeër in die seisoen het die son die gras wat uitgespruit het, doodgebrand.

Van Zijl sê ná die reën is boere meer optimisties, maar hy is tog bekommerd oor toestande in die provinsie.

“Ek het vandag (8 Januarie) hoëpotensiaallande gesien wat kaal lê. Dit is lande waar die mielies dié tyd gewoonlik al saadhoogte staan.”

Van Zijl is ook bekommerd oor die intensiewe vark- en hoenderkleinboere in die provinsie, wat baie afhanklik van die mieliebedryf is.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.