Op Saterdag 15 Mei het ’n konvooi van bykans 60 voertuie die pad na die Moordenaarskaroo aangepak waar voer, water en ander skenkings aan 61 boere, 118 plaaswerkers en hul gesinne van Laingsburg, die Moordenaarskaroo, Vleiland en Koup oorhandig is. Voer, kruideniersware en diesel is ook geneem na boere wat nie kon bekostig om self die skenkings te kom haal nie.

“Dit is nou sewe jaar dat ons as boere sien hoe die veld kwyn en die diere se kragte verminder tot hul net nie meer kan opstaan nie en die volgende dag dood lê,” sê mnr. Pieter du Plessis van SA Water Warriors. “Boere met kuddes van 1 500 skape het nou 200 tot 300 diere oor en hulle moet gevoer word om te oorleef.

“Vir ons boere is dit hartverskeurend om ons werkers te verminder en baie boere moet sonder werkers probeer klaarkom. Talle boere in die distrik Laingsburg kan nie meer sonder skenkings hul plase probeer behou nie. Skaap wat nog aan die lewe gehou is, word nou verkoop en die plase se hekke gesluit.“Gedeeltes van Vleiland, die Moordenaarskaroo asook ’n gedeelte van die Koup se bosse staan pikswart en die veld kan net met baie opvolgreëns eers weer herstel. Intussen moet die boere probeer oorleef, hoe weet ons nie.”

Du Plessis sê SA Water Warriors sal aanhou om boere by te staan. Besoek die organisasie se Facebookblad vir nog inligting oor hoe om skenkings te maak en betrokke te raak.