Luidens ’n verklaring van Agri Oos-Kaap sê mnr. Peter Cloete, ondervoorsitter van Agri Oos-Kaap, dié boere benodig dringend staatshulp. “Die meeste boere se spense is leeg – dit is vir baie jare al. Hulle het nie meer opgebergde voorraad waarop hulle kan staatmaak nie.”

Agri Oos-Kaap sê van die boere moes reeds hul vee weens die droogte laat slag. Sonder voldoende somerreënval is skadebeheer al wat kan gebeur.

Volgens Cloete moet boere toegang kry tot die R75 miljoen in droogteverligting wat deur die provinsiale regering se departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming beskikbaar gestel is. Hy sê saam met die R600 miljoen waarom die provinsie by die nasionale regering aansoek gedoen het, kan die krisis minstens bestuur word.

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake het op ’n waterberaad in Graaff-Reinet ’n verdere R100 miljoen vir droogteverligting beloof.

G’n droogtehulp in sig

Mnr. Retief Odendaal, DA-lid van die Oos-Kaapse wetgewer, sê daar is nog geen teken van die beloofde finansiering nie. Boere is steeds in die duister oor die uitslag van hul aansoeke, wat teen 22 November ingehandig moes word.

Volgens Odendaal is die departement se portefeuljekomitee ingelig dat R33,8 miljoen onmiddellik beskikbaar gestel sou word en dat die oorblywende geld beskikbaar gestel sou word sodra die departement se aangepaste begroting goedgekeur is. Volgens Odendaal is die begroting reeds goedgekeur, maar kommersiële boere het geen hulp gekry nie.

Cloete bevestig ook dat geen kommersiële boer tot nou toe enige bystand of terugvoer ontvang het van die provinsiale departement van landelike hervorming en grondhervorming rakende die droogtehulp wat in November aangekondig is nie. Hy sê hulle weet van opkomende en kommunale boere wat reeds hulp ontvang het.

Volgens Cloete het reën in die noordoostelike dele van die Oos-Kaap verligting gebring, maar die toestande is steeds kritiek in die westelike deel van die provinsie.

Saampraat

Cloete voeg by dat die manier hoe boere en die regering met mekaar kommunikeer, moet verander weens die waarskynlikheid van klimaatsverandering en intensiewer droogtes in die toekoms. Hy sê boere en staatsamptenare moet kwartaalliks byeenkom.

“Ons moet na die toekoms kyk, probleme kan probeer identifiseer en oplossings daarvoor kry voor dit ’n krisis raak.”

Volgens Cloete is boorgate nie ’n oplossing nie aangesien hulle nie water op lang termyn kan verseker nie. Verder het verskeie boorgate reeds tydens die droogte opgedroog.

“Baie boere het reeds hul kuddes tot kernkuddes teruggesnoei het weens die tekort aan die voer. As hulle hul kuddes verder verminder, sal hulle nie meer ’n toekoms as boere hê nie. Dít sal die hele land raak.”