Mnr. Wouter Wessels, LP van die VF Plus, het gesê in die aksieplan om die ekonomie te herstel is die landbou – wat arbeidsintensief is – as katalisator vir groei geïdentifiseer.

Hy het gevra of daar nog ’n landbousektor gaan wees wanneer die plan in werking gestel word aangesien bankrotskap talle boere in die gesig staar weens die voortslepende droogte en hoë insetkoste, terwyl beleidsonsekerheid die situasie vererger.

“Is dit nie tyd dat iets nou gedoen moet word pleks dat gewag word vir die plan nie? Wat sal jou regering doen om dringend die kommersiële landbou te beskerm?”

Wessels wou weet of dit nie tyd is dat die land dit oorweeg om sterk beskermingsmaatreëls vir die landbousektor in te stel nie.

Ramaphosa het gesê die sektor kan meer as ’n miljoen werksgeleenthede skep – soos aangedui in die nasionale ontwikkelingsplan – en dat maatreëls en ingrypings daargestel word om dit te vermag.

’n Plan

Volgens hom het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, reeds ’n plan waaraan sy en ander mense werk om te verseker dat die kommersiële landbousektor deur moeilike tye soos die droogte ondersteun word. Die regering wil sien dat daar programme is wat boere in moeilike tye ondersteun, en terselfdertyd boerdery bevorder by diegene wat nie in die verlede die geleentheid gekry het om daaraan deel te neem nie of nie toegang tot grond of die nodige ondersteuning soos marktoegang van die regering gekry het nie.

Rampahosa het gesê daar is talle swart mense wat wil boer. “Dit is ’n feit. Ek is self ’n boer. Ek weet talle swart mense wil boer. Hulle wil met beeste boer, voedselproduksie beoefen, hulle wil met gewasse, grane en vrugte boer en ons moet die geleenthede skep sodat hulle in die sektor kan deelneem.”

Om dit te vermag sal hulle toegang moet kry tot water, grond en finansiering. Hy het gesê dat Didiza na al hierdie kwessies kyk en dat sy al strategieë het wat toegepas kan word.

Hy het benadruk dat kommersiële boere terselfdertyd ondersteun moet word en dat die land nie in dieselfde situasie as sommige lande wil wees wat sukkel met voedselproduksie nie.

“Ons wil dit nooit in Suid-Afrika sien gebeur nie. Ons wil ’n netto produseerder en uitvoerder wees. Ons wil ’n oorhoofse ondersteuningsrol by die landbousektor in die land speel omdat ons dit inderdaad as ’n bedryf vir groei sien.”