Luidens ’n verklaring verwelkom Agri SA die rampverklaring, aangesien boere in dié dele – waar die droogte reeds 6- 9 jaar lange duur – droogtehulp van staatsdepartemente ontvang het, maar dringend finansiële steun benodig om die plaaslike ekonomie te red en die oorblywende kernkuddes se oorlewing te verseker.

Mnr. Willem Symington, voorsitter van Agri SA se sentrum van uitnemendheid vir natuurlike hulpbronne, sê die rampverklaring is ’n gunstige stap van die regering om hierdie gebiede, wat gebuk gaan onder ernstige rampdroogtetoestande, se nood te help aanpak.

“Ons hoop dat daar voldoende optrede en hulp sal wees om die landbousektor en plaaslike ekonomie te ondersteun om die rampdroogte se uitwerking die hoof te bied.”

In die rampverklaring doen Tau ’n beroep op staatsinstellings om bestaande strukture te versterk en gebeurlikheidsplanne te aktiveer om aandag aan die ramp te gee. Hy versoek terselfdertyd die weermag, polisie en enige ander staatsinstelling om die nasionale rampbestuursentrum te ondersteun met en verslaggewing oor droogtetoestande.

Me. Andrea Campher, risiko-en-rampbestuurder by Agri SA, sê tot dusver het burokratiese rompslomp en onvoldoende begrotings vir droogtehulp deur die regering boere en plaaswerkers in die droogtegeteisterde gebiede van ’n lewensbestaan ontneem.

“Ten spyte hiervan is ons optimisties dat nasionale hulpbronne beskikbaar gestel gaan word ná die rampverklaring.”

Agri SA het saam met Agri Wes-Kaap, Agri Oos-Kaap en Agri Noord-Kaap vandeesmaand ’n droogteprojek van stapel gestuur om plaaslike boere se stories te vertel en perspektief op die ramp te bied. Besoek https://youtu.be/afiGICEjR6k of https://youtu.be/AyUbORfipk4 om na die boere se stories te luister.

Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die verklaring volg op provinsiale rampbestuursentrums se aanbevelings.

“Agri Wes-Kaap wil graag die Wes-Kaapse rampbestuursentrum en die Wes-Kaapse departement van landbou bedank vir hul insette. Agri Wes-Kaap sien uit na wat die omvang en formaat van ondersteuning aan die droogtegeteisterde gebiede gaan wees.”

Volgens Strydom ervaar sekere dele van die Wes-Kaap al die afgelope sewe jaar droogtetoestande. Boere in die Matzikama-distrik, asook die Sentraal- en Klein-Karoo het sover vanjaar weer geen noemenswaardige reën gehad het nie.

Die Wes-Kaapse departement van landbou het in April vanjaar 1 115 boere in kritieke en uiters kritieke droogtegeteisterde gebiede ondersteun met voerskenkings ter waarde van R12,2 miljoen. Strydom sê geld vanaf die nasionale regering sal sulke provinsiale aksies ondersteun en bevorder.

Klik hier vir die droogteverklaring soos dit in die Staatskoerant verskyn het.