Van Suid-Afrika se voorste uitvoervrugteboere stuur op ’n ramp af weens watertekorte. Mnr. Billy Bourbon-Leftley, vrugteboer en voorsitter van die Bergrivier-hoofbesproeiingsraad, wat ál 11 besproeiingskemas in die Bergrivier insluit, sê besnoeiings maak dit onmoontlik om soos normaalweg voort te gaan.

“Tans weet ons dat ons watertoedeling met ’n verdere 30% teenoor die afgelope twee jaar se toedelings ingekort gaan word. Dit gaan die totale beskikbare water aan boere op slegs 42,5% van hul normale toedelings te staan bring.

“Vir diegene aan wie 4 000 m3/ ha toegedeel is, gaan daar slegs 1 700 m3 in die komende produksiejaar beskikbaar wees. Vir boere aan wie 7 000 m3/ha toegedeel is, gaan daar minder as 3 000 m3/ ha beskikbaar wees. Daar is geen manier hoe ons met hierdie water kan deurkom nie.”

In die Langkloof, Oos-Kaap, een van die land se grootste vrugteproduserende gebiede, het sommige boerderye steeds nie ’n druppel besproeiingswater nie. Mnr. Bokkie Kritzinger, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, sê daar is nog ses tot agt weke oor voordat dit regtig te laat is vir die streek.

LEES OOK: Stryd wag oor kwotabesnoeiings

Red eerder bome

“Indien daar voor einde Oktober, wanneer ons vol begin besproei, goeie reën uitsak, sal ons ’n plan kan maak. Indien nie, sal ons die oes tot niet laat gaan en ten minste net die bome red.”

Mnr. André de Wit, wat al 46 jaar lank in dié gebied boer, sê hy het nog nooit sy wêreld só gesien nie. “Ek is tans besig om boorgate te boor en hoop dat ek genoeg water bymekaar kan maak om my bome te red.” Bourbon-Leftley se groot bekommernis is dat die situasie in die Boland sonder verdere reën verder kan verswak, wat tot ’n verdere besnoeiing van 30% sal lei.

“Sitrus-, steenvrug- en tafeldruifboere in die omgewing het reeds begin om bestaande boorde en wingerde kleiner te maak en niemand gaan dit waag om nuwe aanplantings te vestig nie.”

Leeg

Hy sê met die begin van die somer verlede jaar was die ses grootste besproeiingsbronne se gesamentlike voorraad 62%. “Ons het toe in 2016-’17 44% van die totale vermoë benut, wat die damvlakke tot op 18% laat daal het. Die totale voorraad staan nou ná die winter maar op 35%.”

Die totale hoeveelheid water wat tans beskikbaar is, is slegs 80% van die hoeveelheid wat boere verlede jaar deur die somer verbruik het. Volgens Bourbon- Leftley het boere verlede jaar reeds baie water bespaar. Om vanjaar te oorleef, indien daar geen verdere reën kom nie, moet boere nog 20% water bespaar.

LEES OOK: Droogtetande ál skerper vir vrugteboere

Frustrasie

Volgens mnr. Daan Brink, ’n tegniese adviseur by die vrugteverpakker Two-a-Day, is boere by Grabouw bekommerd.

“Die grootste frustrasie is dat ons boere nie voor 1 November sal weet hoeveel water uit die skemas aan hulle toegestaan sal word nie.” Hy is egter vol lof vir Hortgro se voorligting en sê boere gaan uit hul pad om die meeste uit elke kubieke meter water te kry.