Inwoners in gebiede waar reën wel geval het, kon gou aanskou hoe die dorre aarde soos ’n spons die water drink en die hoop soos niet verdwyn.

Dit is daarom vir SA Water Warriors, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat boere, plaaswerkers en hul gesinne tydens die voortslepende droogte ondersteun, noodsaaklik om te midde van die Covid-19-pandemie steeds met die verspreiding van droogtehulp in die Noord-Kaap voort te gaan.

Die organisasie bestaan reeds langer as twee jaar en het al vele gemeenskappe, onder meer Springbok, Kliprand, Oudtshoorn, Prins Albert en Kenhardt, besoek om skenkings te oorhandig. Die organisasie bestaan uit ses lede reg oor Suid-Afrika wat skenkings bymekaar maak.

Du Plessis sê die organisasie was besig met reëlings vir ’n uitreik toe die aankondiging van die inperking hul werksaamhede tydelik stopgesit het. Hulle het nou die regte permitte om weer na behoeftige families om te sien.

“Tydens die inperking het die boere nog geen droogtehulp ontvang nie, tog is die voortslepende droogte se impak onmisbaar en boere moet aanhou om hul vee te voer, terwyl daar geen weiding beskikbaar is nie.”

South African Water Warriors beoog om so spoedig moontlik uit te reik na boere, plaaswerkers en hul gesinne in die omgewing van Van Wyksvlei en Brandvlei. Om dit te doen, het hulle skenkings nodig.

“Nie-bederfbare kos, water, troeteldierkos en veevoer word dringend benodig om die uitreik moontlik te maak. Altesame 245 gesinne sal verligting ontvang. Finansiële skenkings is ook dringend nodig. Dit sal gebruik word om die skenkings te vervoer.

“Enige skenking is welkom, al is dit klein. Saam kan almal help om ons boere te dra deur die ongelooflik moeilike droogte, wat reeds lewens geneem, werkloosheid veroorsaak en boere diep in die skuld gedompel het.

“Hul koskaste is leeg en die afgeskaalde veekuddes moet steeds na omgesien word. Alle skenkings word gratis na die boere en hul werkers geneem.”

Besoek SA Water Warriors se Facebookblad of die webwerf www.sawaterwarriors.org vir nog inligting.