Verder vra die party die staat om die bedrae wat vir droogtehulpverlening geoormerk word, te heroorweeg.

Mnr. Wouter Wessels, die party se woordvoerder oor landbou, bosbou en visserye, sê die Vrystaat het byvoorbeeld in sy jaarliks begroting slegs sowat R13,5 miljoen vir droogtehulp ontvang en boere is aangewese op skenkings, soos wat tans in Bultfontein die geval is.

“Verliese weens die droogteramp beloop reeds sowat 31 000 werksgeleenthede en meer as R7 miljard.  Die krisis is nie beperk tot die landbousektor nie, maar hou verreikende gevolge vir die hele land en al sy inwoners in,” sê hy in ’n verklaring.

Wessels sê die VF Plus het ook met skok en afgryse verneem van die verdwyning van sowat R220 miljoen wat vir droogtehulp in KwaZulu-Natal toegeken is. “Dit is nie duidelik hoe die geld verdwyn het nie en ons eis ’n dringende ondersoek hieroor sodat die skuldiges aan die pen kan ry.”

Hy sê die Regering moet droogtehulpverlening dringend as ’n voorkeursaak vir kommersiële en ontwikkelende boere hanteer en ook die proses beter beheer en bestuur om te voorkom dat toekennings, soos dié in KwaZulu-Natal, gesteel word.

Hy het verwys na gevalle waar diensverskaffers wat op tender aangestel is, voerbale teen R50 aankoop en teen R150 aan die staat verkoop.  In ander gevalle verkoop verspreiders die voer wat hulle veronderstel is om gratis te lewer aan boere in droogtegeteisterde gebiede. Hy vra dat teen gewetenlose uitbuiters opgetree moet word.

“Suid-Afrika se boere verkeer in ’n krisis en gevolglik die land se voedselsekerheid en ekonomie ook. 

“Die droogte het reeds sy tol geëis op die landbousektor met veevrektes en swak opbrengste wat aan die orde van die dag is.  Daar is veral ’n reuseverlies aan lewende hawe in die Vrystaat, Noord Kaap en Oos Kaap, met sekere dele wat sedert November 2017 nog geen reën gekry het nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.