Luidens ’n verklaring wat vandag uitgereik is, het die vroeëwaarskuwingskomitee van die provinsiale rampbestuursentrum, in Junie in ’n verslag gesê dat veral Van Wyksvlei, Springbok, Loeriesfontein en Kenhardt deur die droogte geraak word.

Luidens die verklaring het die distrikte vanjaar onderskeidelik 100 mm, 7 mm, 27 mm en 4 mm reënval gehad vergeleke met onderskeidelik 57 mm, 48 mm, 78 mm en 43 mm verlede jaar.In die verslag is gesê dat R413,1 miljoen oor die volgende drie maande in daardie gebiede benodig word om ’n spoediger herstel ná die droogte te bewerkstellig en dat ’n jaarlikse ekonomiese verlies van R495 miljoen en 6 267 werksgeleenthede oor die volgende ses jaar verwag kan word as die regering nie ingryp nie.

Die DA meen dat as daar beter samewerking tussen die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, die nasionale tesourie, die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, en die provinsiale departement van landbou en omgewingsake was, hulle meer moeite sou doen om die verslag te oorweeg en die aanbevelings daarin toe te pas ten einde die impak van die droogte te verminder en die ekonomie te stimuleer.

“Die DA herhaal sy vorige versoeke dat boere in die Noord-Kaap, Wes-Kaap, Noordwes en Oos-Kaap wat deur die droogte geraak is, gekoördineerde steun en kommunikasie ontvang. Hul skuld styg steeds en word ondraaglik,” lui die party se verklaring.

“Die nasionale tesourie was tot dusver afwesig ten opsigte van steun aan die landbousektor. In die verlede sou die Land Bank droogtehulp aangebied het in die vorm van goedkoper lenings, maar om dit te kan doen, moet hierdie gebiede eers tot nasionale rampgebiede verklaar word.

“Die werklikheid is dat die Land Bank die boere in die steek laat. Dit toon dat die staat verkies om ’n sukkelende lugredery te steun ten koste van voedselsekerheid en werksgeleenthede. Die afgradering van die Land Bank deur Moody’s kan voedselonsekerheid onder Suid-Afrika se kwesbaarste inwoners versleg.”

Die DA versoek dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en dr. Mmaphaka Tau, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, weer die droogte as ’n ramptoestand verklaar.