Boere sukkel om hul lenings te betaal, in só ’n mate dat hulle hul plase op bankveilings kan verloor.

Mnr. Herman Meiring, voorsitter van die Bultfontein-distrikslandbou-unie, sê die presiese getalle is onbekend, maar die persentasie boere en hektare wat in gedrang is, “is groot genoeg om ’n totale ineenstorting van grondpryse te veroorsaak as veilings voortgaan”.

Die gebied, waar mielies, sonneblomme, grondbone, sojabone en aartappels geplant word, het vyf tot ses opeenvolgende droë jare gehad.

“In die 2015-’16-seisoen is slegs 20% van die totale oppervlakte beplant, maar boere se vaste koste was onveranderd.

“In die 2016-’17-seisoen is die volle oppervlakte beplant en was die oeste goed, maar die pryse was baie laag.

“In die 2017-’18-seisoen is 80% van die oppervlakte baie laat beplant. Dit het tot swakker opbrengste en graadprobleme gelei.

Meiring sê boere se korttermynskuld oorskry hul inkomste.

Veevertakkings het ook nie goed gevaar nie.

Die 2015-’16-droogte het gelei tot veldverdroging, geen oesreste, geen aangeplante weidings, ’n ooraanbod van vee op veilings en die slag van kernkuddes.

In dié tyd het melkboere se pryse ook gedaal en die mielieprys het tot R5 000/ton opgeskiet.

Meiring sê besproeiingsboere het ook, weens ’n watertekort, erg deurgeloop.

Hy beraam dat die helfte van boereskuld produksielenings behels.

Voor die droë jare het grondpryse in die omgewing kwaaig gestyg omdat boere skaalekonomie nagestreef het.

Die koste van produksiemiddele, die swak mielieprys en die rente op hul lenings het boere se winsgewendheid egter onder druk geplaas en grondpryse het in reaksie daarop met meer as 65% gedaal.

“Dit kan tot 80% van boerderyvertakkings se kredietwaardigheid in gedrang bring,” sê Meiring.

“Ekonomiese omstandighede het ’n groot rol in boere se droewige situasie gespeel, maar politieke onsekerheid veroorsaak verder dat die min kopers wat daar nog is, huiwerig is om enigsins verder uit te brei,” sê hy.

Vrystaat Landbou, Agri SA, Agbiz en die Bankevereniging van Suid-Afrika (Basa) is volgens hom in gesprek oor die probleme.

“Finansiële instansies wil graag help, en het al gehelp tot waar hulle kan, maar daar is ’n Kredietwet wat nagekom moet word.”

Vermoë om te betaal

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, wie se lede instellings insluit wat lenings aan boere toestaan, het bevestig dat daar streke is waar boere se terugbetalingsvermoë nie goed is nie.

“Van die boere, veral saaiboere, sukkel nog om te herstel ná veral die droogtes van 2014-’15 en 2015-’16.

“Lae internasionale en plaaslike graanpryse, weens hoë wêreldvoorraadvlakke die afgelope paar jaar, het beslis ook bygedra,” sê Purchase.

Volgens onlangse syfers van die Land Bank en Basa, oor boerderyskuld van onderskeidelik R49 miljard en R148 miljard, kan ’n mens aanneem dat totale boerderyskuld meer as R197 miljard beloop, sê hy.

“Ons is nie tans in ’n krisis nie, maar as landboutoestande (pryse en omgewingsinvloede) en die politieke of beleidsonsekerheid verswak, kan dit grondpryse benadeel en dus ook die sekuriteitswaarde wat onderliggend tot die boerderyskuld is,” sê Purchase.

Produksiekrediet word merendeels eers ná Augustus toegestaan en Purchase sê verskeie faktore word oorweeg in die besluit om krediet toe te staan, en teen watter rentekoers.

“Klimaatsverandering, of weers- en grondvogtoestande, is maar enkele van die faktore.”

Purchase sê terugbetaalvermoë bly die belangrikste, waarvoor die vereistes van die Nasionale Kredietwet en die voorgeskrewe bepaling van bekostigbaarheid in ag geneem moet word.

Oesversekering

Die Nasionale Tesourie het verlede week (5 September) by navraag gesê moontlikhede word steeds ondersoek om kleinskaalse en kommersiële boere deur staatsteun vir oesversekering te help.

’n Toetsprojek sal hopelik aanstaande jaar begin.

Indeksgegronde versekering blyk volgens die Tesourie die haalbaarste opsie vir kleinskaalse boere te wees, terwyl private versekeraars intussen na soortgelyke moontlikhede vir kommersiële boere kyk.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.