Mnr. Francois Venter van die plaas Helderhoek in die distrik Reddersburg het onlangs ’n foto aangestuur van een van sy Dormerooie se vyfling. Hy het aan Landbou.com gesê die vee “lam iets verskrikliks” op die plaas.

Van die lesers het op Facebook aangedui dat hul voorouers geglo het dat ’n goeie lamseisoen ’n teken is dat ’n goeie reënseisoen op pad is.

Mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige van Santam Landbou, sê daar word dikwels aansprake gemaak van tekens in die natuur wat deur die reaksie van diere en plante voorafgegaan word. “Daar word gereeld bespiegel of die diere iets weet wat die mens nie weet nie en daarom kom meerlinge in lamtyd voor in reaksie op ’n verwagte goeie seisoen.

Wetenskaplike bewyse

“Ek het al heelwat navorsing hieroor gedoen. Hoewel die hoop op ’n goeie reënseisoen nooit afgeskiet moet word nie, bestaan daar nie wetenskaplike bewyse van ’n verband tussen ’n goeie lamseisoen en ’n goeie reënseisoen nie,” sê Van den Berg.

Volgens Van den Berg is ’n goeie lamseisoen eerder ’n aanduiding van toestande toe vee dragtig geraak het. “ ’n Mens moet ook prakties kyk na hoe die siklusse in die natuur werk en hoe diere met die natuur sinchroniseer. Met kleinvee wat ongeveer vyf maande dragtig is voordat die lammers gebore word, moet ons terugwerk na hoe toestande gelyk het ten minste vyf tot ses maande gelede.”

Die vrugbaarheid van ’n dier word ook beïnvloed deur die voeding en kondisie van vee gedurende paartyd, sê Van den Berg. “Neem ’n voorbeeld van ’n ooi wat teen middel Augustus gelam het. As ons vyf maande terugwerk, moes paring teen ongeveer middel Maart plaasgevind het. Dit was die begin van die reëntyd vir baie streke. Heelwat reën het toe reeds in Januarie en Februarie vanjaar oor sekere streke voorgekom. Gevolglik het weidings in dele begin herstel ná die droogte. Uit ’n wetenskaplike oogpunt is dit waarskynliker dat die diere begin reageer het op beter voedingstoestande as om ’n volgende seisoen se toestande te probeer antisipeer.

“Daar kan egter bespiegel word dat ’n verband bestaan tussen die toestande wat voor die winter ervaar word, en dit wat in die volgende seisoen kan volg. ’n Neiging kan voorkom om ná ’n droogte, wat opgevolg is deur goeie toestande, vinniger aan te teel omdat getalle in die droogte afgeneem het en getalle of produksie dus opgemaak moet word,” sê Van den Berg.

“Ons weet min van die wisselwerkings en reaksies binne die natuur. Ons weet ook min van hoe hierdie reaksies weens menslike bestuur begin verswak.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.