Tot 114 mm reën het Maandag en Dinsdag binne 24 uur by Vanstadensrus geval. Mnr. Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou, sê by Rouxville is ook 100 mm in dié tyd gemeet. Goeie reënval het sedert die naweek ook by Bethulie en in ander dele van die Suidoos-Vrystaat voorgekom.

Mnr. Gys Olivier, ’n boer van Hertzogville, sê in dié omgewing is daar nog trekkers wat loop om gewasse aan te plant nadat die reën daar uitsonderlik laat begin het. “Talle boere plant nou gewasse as voer vir hul diere, terwyl ander ook laat sonneblomme plant.” 

Sowat 50 mm reën (en selfs meer) het in dié omgewing geval. “Die reën het nuwe hoop en lewe gebring. Die manne voel beter,” sê Olivier. 

Asem ophou oor rypDr. Dirk Strydom, bestuurder van ekonomie en bemarking by Graan SA, sê somersaaiboere hou tans asem op met die reën wat in groot dele van die somersaaigebied baie laat gekom het.  

“Laat plant is maar altyd ’n dilemma. Dis nou ’n duimvashouscenario met vroeë ryp wat ’n groot risiko is vir boere wat laat plant.” 

Hy sê die organisasie veral bekommerd oor boere se finansiële posisie. Talle graanboere is reeds sedert 2015-’16 onder finansiële druk. “Die situasie gaan nie ’n voedseltekort tot gevolg hê nie, maar opbrengsskade saam ’n swak finansiële posisie bemoeilik die situasie. Dis regtig ’n asemophouseisoen dié!” 

Graan SA is deel van die Nasionale Landboubemarkingsraad se taakspan was aangewys is om met planne vorendag te kom rakende die droogte en die ekonomiese impak daarvan. 

Optimisme oor nog reënIntussen het goeie reën ook in dele van die Oos- en Noord-Kaap voorgekom. Op sosiale media doen boere verslag van tot 75mm reën wat by Vanwyksvlei in die Noord-Kaap gemeet is. 

Mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê goeie neerslae van tot 100 mm het die naweek in dele van dié provinsie geval. “Ons is baie optimisties dat wydverspreide reën nou sal begin val.” 

Volgens hom het reënval tot dusver dié seisoen geïsoleerd voorgekom. “Die reën het in kolle en strepe geval en jy moes bid om in daai streep of kol te woon.” 

Stern sê talle veeboere in die provinsie beleef ’n moeilike jaar met teelkuddes wat weer opgebou moet word, terwyl hul lopende inkomste beperk is.