Dit blyk uit ’n antwoord op ’n parlementêre vraag wat me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gestel het.

Die grondeisekommisie het nog nooit wetenskaplike studies onderneem om te bepaal watter impak eise wat gepubliseer is, op die waarde van daardie grond het nie. 

Die kommissie is dit egter eens dat selfs al bevestig studies dat die publikasie van grondeise ’n ongunstige impak op die eindomswaarde het, sal dit steeds nie genoeg rede wees om dit nie te publiseer ingevolge artikel 2 van die Wet op die Herstel van Grondregte (Wet 22 van 1994) nie.

Terugtrek van eise

Steyn wou ook weet of daar in die Staatskoerant aangekondig word wanneer bevind word dat grondeise ongeldig is.

Didiza sê die wet maak voorsiening daarvoor dat ’n kennisgewing in die Staatskoerant in spesifieke omstandighede teruggetrek of gewysig kan word. Dit kan slegs gebeur wanneer die grondeienaar wat deur die publikasie geraak word, in voorleggings aan die kommissie kan bewys dat die eis ongeldig is óf wanneer die kommissie deur sy ondersoek inligting bekom wat daarop wys dat die eis ongeldig is. 

Twee stappe word gevolg om die eis uit te gooi. Didiza sê dat die kommissie ’n kennisgewing of brief aan die eiser stuur dat die eis uitgegooi gaan word. 

Die eiser het dan 30 dae om bewyse te lewer om die kommissie te oortuig dat die eis nie uitgegooi moet word nie.

Die volgende stap is die uitreiking van ’n brief aan die eiser dat die eis laat vaar gaan word omdat daar nie genoeg oortuigende inligting verskaf is om daarmee voort te gaan nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.