Mnr. Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, sê die brande het ontstaan nadat ’n Jojo-tenk gisteraand op die R708 op pad na Christiana aan die brand gesteek is.

Die groep wat die tenk aan die brand gesteek het, is glo ontevrede met die water wat aan die plaaslike township gelewer word. Olivier sê nege verdagtes is reeds in hegtenis geneem. Nog ’n verdagte word gesoek. Brig Sam Maghele, polisiewoordvoerder, sê die nege verdagtes is aangekeer vir kwaadwillige saakbeskadiging. 'n Saak van brandstigting word ondersoek.

Die brandende tenk het die veld aan die brand gesteek en intussen het die brand so versprei dat drie brande onder beheer gebring moet word. “Die hitte en die wind maak die situasie erger,” sê Olivier. “Die termometer in die bakkie wys 36 °C en die wind waai nou teen so 30 km/h tot 40 km/h. Dis baie moeilike toestande om die brande onder beheer te bring.” 'n Vliegtuig word na die gebied gestuur om te help om die brande te blus.

Olivier sê nog ’n bydraende faktor is dat die brande voorkom in ’n gebied wat vroeër goeie reën gehad het, derhalwe is daar baie brandbare materiaal. 

brand
Die veldbrand op mnr. Giep Botha se plaas. Foto: Verskaf
brand
Die stoor op mnr. Giep Botha se plaas. Foto: Verskaf
brand
Die stoor op mnr. Giep Botha se plaas. Foto: Verskaf
brand
Van die beeste wat dr. Nico Hendricks, plaaslike veearts, op 'n boer se plaas probeer red na hulle gebrand het. Foto: Nico Hendricks
brand
Die vlamme het baie naby aan mnr. Tewie Wessels se plaashuis gekom. Foto: Verskaf
brand
Mnr. Tewie Wessels se plaas. Foto: Verskaf
brand
Mnr. Tewie Wessels se plaas. Foto: Verskaf

Skade opname

Intussen probeer boere tussendeur ’n skade-opname doen. Olivier sê dis moeilik om te skat hoeveel hektare afgebrand het, “maar dit moet duisende wees”. Een boer se hele plaas en byna sy hele beesstoetery het gebrand. “Hy moes vanoggend baie van die diere doodskiet omdat hy niks vir hulle kan doen nie. Nog een se wild is in ’n kamp vasgekeer.”

Talle noodkrete van boere wat smeek om ekstra hulp omdat die vlamme hulle oorval en hul huise bedreig, is al op die plaaslike landbougroepe op WhatsApp aangestuur. “Op ’n stadium het ses groepe dringend hulp nodig gehad,” sê Olivier.

Die distrik se boere is baie moedeloos. Hulle het die plaaslike gemeenskap gedurende die inperking met skenkings van sowat 5 000 sakke mieliemeel, 150 ton aartappels en tonne vleis bygestaan. “Die kommunale boere bel my ook baie moedeloos, want hulle weet nie waar hulle diere nou moet wei of hoe om hulle te voer nie,” sê Olivier.

*Intussen het Olivier aan Landbou.com bevestig dat mnr. Tewie Nel, seun van dr. Gerhard Nel van Hertzogville, 40% brandwonde opgedoen het terwyl 'n brand help blus het. Hy is in die intensiewe sorgeenheid van 'n hospitaal in Bloemfontein opgeneem.