Binne weke nadat aanlegte van die wynkelders Kleine Zalze en Stellenbosch Vineyards in puin gelê is, het die KWV se produksie-aanleg in die Paarl ook in vlamme opgegaan. Sewe mense is vir rookinaseming behandel.

Die brand het op 20 November tussen 06:30 en 07:00 uitgebreek in die aanleg, wat uit drie pakhuise bestaan. Die bottelerings- en verpakkingsinfrastruktuur is beskadig, luidens ’n mediaverklaring deur die KWV.

Me. Riana Geldenhuys, kommunikasie-en-bemarkingsbestuurder by die Drakenstein-munisipaliteit, sê brandbestryders kon die brand in bedwang kry voordat onder meer tenke, met sowat 90 000 liter brandewyn, in die vlamme se pad gekom het. “Masjinerie, kantoortoerusting en bottels op pallette is in die brand beskadig.”

Die KWV gaan wel tydelik probleme ervaar om van sy handelsmerke te botteleer, maar hy beraam reeds planne met diensverskaffers en verwante bedrywe om die botteleringsdiens weer op dreef te kry, sê die maatskappy in ’n verklaring.

“Gelukkig is die versnydingsbedrywighede, die opberging van produkte, logiestiese en verwante verspreidingsbedrywighede nie geraak nie.”

Masjinerie, bottels beskadig

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, maar volgens omstanders het hulle ’n harde knal gehoor en kort daarna swart rook gesien.

Altesaam 48 brandbestryders en 14 brandbestrydingsvoertuie van die Drakenstein-munisipaliteit, die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit en die Stellenbosch-munisipaliteit het die brand bestry. Teen 10:00 was dit onder beheer.

’n KWV-werknemer, ’n diensverskaffer en ’n brandbestryder is in die plaaslike hospitaal opgeneem weens rookinaseming. Al drie is in ’n stabiele toestand. Vier KWV-werknemers is ook op die toneel behandel vir geringe rookinaseming.

Die polisie ondersoek die oorsaak van die brand. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.