Vuurwapen-eienaars wat hul wapens aan die polisie oorhandig het vir vernietiging ná hulle nie betyds hul lisensies hernu het nie, kan dit nou by die polisie gaan opeis ná SA Jagters se suksesvolle hofaansoek teen die polisie.

Die Gautengse Hooggeregshof het op 4 Julie bevind dat alle vuurwapenlisensies wat onder die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) verval het, steeds geldig is. Die hof het ook bevind dat twee artikels wat handel oor die besit en lisensiëring van vuurwapens, artikels 24 en 28, ongrondwetlik is en die Parlement 18 maande gegee om die wet in lyn met die Grondwet te bring.

Dié uitspraak moet nou deur die Grondwet bekragtig word.

Meer as 200 000...

“Ons het presies gekry waarvoor ons gevra het,” sê SA Jagters se uitvoerende hoof, mnr. Fred Camphor. “Nagenoeg 200 000 vuurwapen-eienaars, of miskien selfs meer, kan nou 'n sug van verligting slaak dat hulle weer wetlik in besit van hul vuurwapen is. Dit is 'n oorwinning vir SA Jagters en vir alle wetsgehoorsame vuurwapen-eienaars in Suid-Afrika.”

Die polisie het onderneem om hangende dié uitspraak geen vuurwapens te vernietig wat ingehandig is ná verlede jaar se direktief nie.

Die aansoek volg op die Suid-Afrikaanse Polisiediens se “arbitrêre hantering” van laat aansoeke vir die hernuwing van vuurwapenlisensies tussen 2011 en 2016. In sy huidige vorm maak die wet geensins voorsiening vir die laat hernuwing van vuurwapenlisensies nie en oor die jare het sommige provinsies laat aansoeke aanvaar en ander nie.

Onwettige besit

Vroeg verlede jaar het die polisie egter 'n direktief uitgevaardig wat bepaal dat enigiemand wie se vuurwapenlisensie verval het, nou in onwettige besit van hul vuurwapen is en dat dit by die polisie ingehandig moet word vir vernietiging.

“Dié uitspraak deur die Noord-Gauteng Hooggeregshof bied reuse-verligting aan wetsgehoorsame wapen-eienaars wat eenvoudig vergeet het om hul lisensies te hernu en wat op soek is na 'n sinvolle proses en 'n regverdige stelsel om ’n vuurwapen te besit en die lisensie daarvoor te hernu.

"Dié uitspraak is nie die einde van die pad vir 'n lang en frustrerende stryd nie, maar eerder die begin van 'n proses om praktiese wetgewing te implementeer wat in die belang is van 'n individu se reg om 'n vuurwapen te besit,” sê SA Jagters in 'n verklaring.

• Lees die volledige hofuitspraak in die aanhangsel hieronder.