Dit volg nadat verskeie internasionale verskepingslyne hulself tydelik en gedeeltelik aan Kaapstadhawe onttrek het weens erge probleme met opeenhoping en dae lange vertragings. Dis die afgelope ruk ook vererger deur ongunstige weerstoestande. Die vrugte- en wynbedryf is twee uitvoerbedrywe wat hieronder ly.

Hawepersoneel het in Mei positief getoets vir Covid-19. Dit is onseker hoe wyd die virus onder werknemers versprei het.

Luidens Wines of South Afrika (Wosa) se inligtingsbulletin het me. Michelle Philips, waarnemende uitvoerende hoof van Transnet se hawe-terminale, gesê die maatskappy doen sy bes om oplossings te vind. Dit volg op navrae deur Agri SA.

Die personeel uit Durban sal die werkerskorps in die hawe tot ses spanne vergroot.

“Tesame met ’n program om doeltreffendheid te verbeter wat ons tans toepas, hoop ons om die agterstand te verklein,” het Philips gesê.

Sy het ook die hoop uitgespreek dat meer werknemers oor die volgende paar dae kan terugkeer werk toe. “Ons is hard getref deur die pandemie en hoop die ergste is nou verby.”

Nadat sy drie dae in Kaapstad deurgebring het in ’n poging om die probleme op te los, moes sy ook in selfisolasie gaan.

“Ons probeer om op enige manier moontlik te help om die vertragings te verminder.”

’n Koue front, gepaardgaande met sterk wind, oor die naweek het boonop sake verder belemmer.

“Die weer het nie gehelp nie, ten spyte van al ons pogings om die vlakke van werking te verbeter. Die afgelope week het ons meer as 50 uur verloor weens stormweer. Ongelukkig dui die weervoorspelling op nog vier (sulke) dae vandeesweek.”