“Ons gaan 2,5 keer meer vir krag betaal in 2012, dis ‘n skok! Hierdie verhoging bring nie verligting nie!”

Dit is die mening van me. Lindie Stroebel, ‘n ekonoom vir die Landboubesigheidskamer, ná die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ‘n 24,8% verhoging vir vanjaar aan Eskom toegestaan het. Die kragvoorsiener se tariewe gaan volgende jaar met 25,8% styg, terwyl krag in 2012 sowat 25,9% duurder sal wees.

Stoebel sê die impak van die verhoging gaan nie net regstreeks op boere se sakke wees nie, maar ook in die vraag na landbouprodukte. Sy sê die verhoging gaan die produksiekoste van voedsel verhoog, wat kospryse gaan opstoot. “As verbruikers nie meer kos kan bekostig nie, gaan die vraag na landbouprodukte onder ontsettende druk kom,” sê Stroebel.

Sy meen Nersa het nie die totale invloed van die verhoging op inflasie in ag geneem nie. Volgens Nersa sal die verhoging die inflasiekoers met 1,5% laat styg. Volgens Stroebel het Nersa egter nie in ag geneem dat die voedselsektor uit verskillende dele bestaan nie. Sy sê die verhoging gaan ‘n verskil van 1,5% in elke deel van die voedselsektor veroorsaak – “voedselpryse gaan dus aansienlik opgejaag word”.

Vra ondersteuning van Regering

Stoebel sê aangesien verbuikers net ‘n sekere bedrag meer vir voedsel gaan kan betaal, en boere al hoe duurder moet betaal om te produseer, gaan boere se winsmarges baie kleiner word. “As ons wil hê die landbousektor moet hierdie verhogings kan hanteer, sal die Regering vinnig moet wakker skrik met ondersteuning om produksiekoste regdeur waardekettings te verlaag.”

Sy sê daar word maklik gesê dat ontwikkelde lande se elekrisiteit baie duurder as Suid-Afrika s’n is, maar die feit dat dié lande ‘n meer doeltreffende spoorstelsel, padvervoerstelsel, watervoosiening en skole as Suid-Afrika het, word nie genoem nie. Sy meen die land sal nie die verhoging kan hanteer nie: “Dis wat ons die bangste maak! Ongeag van die landbou - die algehele ekonomie kan nie die verhoging hanteer nie.”

Gesprek met die Regering

Intussen het mnr. Johannes Möller, die voorsitter van Agri SA, aangedui dat die organisasie so vinnig moontlik met die Regering wil praat oor die verhoging. Luidens ‘n verklaring sal die gesprek fokus op me. Dipuo Peters, die Minister van Energie, se bereidwilligheid om met verbruikers gesprek te voer oor hoe om die uitdaging van hoër tariewe aan te pak.

Volgens Möller sal boerderye met intensiewe produksiestelsels, soos besproeiing en suiwel, deur dié verhoging op hul knieë gebring word, wat drasties ongunstige uitwerking op plaaslike voedselproduksie, landelike ontwikkeling, werkgeleenthede en uitvoerverdienste sal hê.

Möller is teleurgesteld dat ander maniere nie gevind kon word om die verhoging tot ‘n veel laer vlak te beperk nie. “Dié goedgekeurde tariefverhoging laat ons nou geen ander keuse as om die regering direk te nader om in terme van die energiebeleid, ‘n spesiale bedeling vir die landbou te vra nie,” sê hy.

25 Februarie 2010