Hoewel die moontlike verlies van Edcon se bestelling nadelig sal wees vir die plaaslike katoenwaardeketting, is dit nie ’n nekslag vir plaaslike katoenprodusente nie. 

“Tot 80% van Suid-Afrika se katoen word tans uitgevoer, terwyl 20% deur die plaaslike spinners verwerk word.” 

’n Sakereddingsplan is einde Junie goedgekeur om Edcon van likwidasie te probeer red. Die nasionale inperking het die kleinhandelgroep se finansiële verknorsing vererger waarna hy om vrywillige sakeredding aansoek gedoen het. 

Daar is groot waardering uit die katoenbedryf vir Edcon se betrokkenheid. “Edcon se aanvanklike bestelling van 600 ton katoenlint in 2016 het gegroei tot 2 500 ton oor die afgelope drie jaar. Die maatskappy is ook toegewy daaraan dat sy hele katoenwaardeketting op geïdentifiseerde produkte, van die boer tot die winkelrak, 100% plaaslik bedryf word,” sê Bruwer. 

Benewens die Edcon-groep, bestaande uit Edgars en Jet Stores, is daar ook twee ander kleinhandelgroepe wat die sambreelliggaam vir die plaaslike katoenbedryf, die Suid-Afrikaanse Katoenkluster (SACC), ondersteun. Die groep was voorheen as die volhoubare katoengroep (SCC) bekend. 

Ander kleinhandelaars wat nie deel is van die SACC is nie, gebruik ook plaaslike katoen. “Die regstreekse impak van een winkelgroep se sluiting is dus nie so groot dat dit die Suid-Afrikaanse boer omver gaan gooi nie.” 

Die ondersteuning van plaaslike kleinhandelaars het baie daartoe bygedra om die afgelope aantal jaar nuwe lewe in die plaaslike katoenbedryf te plaas. Volgens Bruwer was die wyse waarop Katoen SA, verteenwoordigers van die katoenwaardeketting en die regering in 2013 hande gevat het met die stigting van die SACC ’n groot suksesfaktor wat meer sekerheid onder die boere geskep het om weer te begin katoen plant. “Dit het die kapasiteit en mededingendheid in die Suid-Afrikaanse tekstiel- en klerenywerhede verhoog.” 

Daar is toe R200 miljoen as deel van ’n vyfjaarplan belê om die bedryf lewensvatbaar te maak en plaaslike verbruik te stimuleer. In 2014 was die Mr. Price-groep, met handelsname soos Mr Price, Milady’s en Sheet Street in sy stal, die eerste kleinhandelaar wat met dié groep hande gevat het. Later het die Edcongroep en Woolworths ook op produklyne, vervaardig uit Suid-Afrikaanse katoen, begin konsentreer. 

Bruwer sê die bedryf is bekommerd oor die impak van die pandemie op sy voortgesette groei. Sedert die SACC gestig is, het katoenproduksie in Suid-Afrika met meer as 800% gegroei en groot beleggings is deur die private sektor in die ontwikkeling van infrastruktuur gedoen. Die struktuur wat die SACC ontwikkel het vir al die belanghebbendes in die waardeketting om saam om een tafel te sit, het bygedra tot vertroue en ’n deursigtige sakemodel wat die aankopers nader aan die boer gebring het. Dit het die weg gebaan vir swart kleinboere en kommersiële boere om in groot getalle tot die mark toe te tree. 

Hierdie groei op produksie- en pluismeulvlak het die behoefte vir nuwe groeigeleenthede geskep sodat plaaslike katoen op groter skaal hier gespin en verder verwerk word. 

“Die SACC het aansoek gedoen vir verdere finansiering van die regering – waarvoor daar nou al twee jaar gewag word. Met die nuwe veranderings aan die begroting weet ons nie of die geld gou beskikbaar sal raak nie.”