In die jongste voorval is mnr. James Allen en sy vrou, Isabel, Sondagmiddag, 29 Januarie, deur twee mans in hulle huis op ’n plaas buite Hennenman aangeval. Volgens Netwerk24 het Isabel vergeet om die kombuisdeur te sluit toe sy by die kombuis uitgeloop het. 

Sy het James wat buite op die stoep gesit het, gaan roep vir middagete. Die twee aanvallers het die egpaar in die kombuis ingewag. Isabel is met ’n mes in die arm en hand gesteek. James het die een aanvaller ’n harde vuishou gegee, waarna die twee verdagtes op die vlug geslaan het.

Die Allens kon hulp ontbied, en sowat 30 boere was vinnig op die toneel. Die verdagtes word nog gesoek.

Agt voorvalle per week

Genl. Maj. Chris van Zyl, assistent hoofbestuurder van die TLU SA, sê volgens hulle statistiek het drie plaasmoorde en 29 –aanvalle reeds in die eerste 26 dae van 2018 in die land plaasgevind. “Dit is meer as een aanval per dag, en ’n gemiddeld van agt aanvalle per week.”

Met ’n total van 423 aanvalle wat vir 2017 aangeteken is, dui die organisasie se statistiek ook agt aanvalle per week vir verlede jaar aan. Van Zyl sê ’n toename kan gesien word in aanvalle wanneer dié gemiddeld per week vir 2015 en 2016 uitgewerk word.

In 2015 het die TLU SA 318 aanvalle aangeteken, wat ’n gemiddeld van ses aanvalle per week is. In 2016 is ’n totaal van 369 aanvalle aangeteken, wat ’n gemiddeld van sewe aanvalle per week is.

Aanvalle wel voorkom

Hoewel die organisasie baie bekommerd is oor die toename wat gesien kan word, is hulle dankbaar dat vier voorvalle oor ’n tydperk van 10 dae in Januarie 2018 voorkom kon word.

“Ons sien veral in die noordelike provinsies van die land verhoogde paraatheid, wat waarskynlik daartoe bydra dat moontlike slagoffers gewaarsku kan word, en aanvalle dus verhoed kan word.”

Van Zyl het boere weereens aangemoedig om deel te word van hulle plaaslike veiligheidsnetwerk of plaaswag, en om hul paraatheid op hulle plase te alle tye opgeskerp te hou.