Die jaar het uitstekend begin met uitvoer van $2,9 miljard (R40 miljard) wat op ’n jaargrondslag groei van 28% verteenwoordig, hoewel dit van ’n lae basis af is weens die ontwrigting van Covid-19-inperkings aan die begin van 2020. Die landbou se handelsurplus in die eerste kwartaal vanjaar is $1,4 miljard (R20 miljard).

Die landbousakekamer Agbiz meen as bloot na BBP-syfers gekyk word, gaan 2021 beter as 2020 wees. Dr. John Purchase, uitvoerende direkteur, sê die groei op ’n jaargrondslag in 2020 was 13,1%, maar ’n mens moet in gedagte hou dit was van die lae basis van 2019 af weens onder meer droogte en dieresiektes. Vir 2021 verwag Agbiz op ’n jaargrondslag groei van 4% tot 5%, maar hierdie keer is dit van ’n relatief hoë basis af.

Hy waarsku egter hoewel hoër uitvoervolumes vir onder meer sitrus, mielies, tafeldruiwe en wyn verwag word, gaan dit nie noodwendig in randwaarde ’n styging weerspieël nie weens die merkwaardige verstewiging van die rand teenoor die Amerikaanse dollar. Die verstewiging van die rand is juis ’n resultaat van ’n baie gunstige handelsbalans oor die afgelope aantal kwartale en waartoe die groter landbou-uitvoer ’n wesenlike bydrae lewer.

Purchase sê daar is onnodige pessimisme in die plaaslike landbou. Die syfers wys eintlik ’n relatief gesonde posisie, veral as dit met ander sektore van die ekonomie vergelyk word.

“Ja, ons het probleme en ons moet aanpassings maak en innoverend wees om groter inklusiwiteit te verseker, maar ons moet perspektief behou. Ook oor ander onsekerhede met betrekking tot beleid en wetgewing werk ons deurlopend met die regering en politici om hierdie sake so goed moontlik te hanteer.”

Mnr. Francois Strydom, groep- uitvoerende hoof van Senwes, het in ’n toespraak met Agri Noordwes se jongboertoekennings gesê mense besef nie in watter fantastiese posisie die Suid-Afrikaanse landbou op die oomblik is nie. Hy het daarop gewys dat verlede jaar die tweede grootste uitvoerjaar in die geskiedenis in randwaarde naas 1994 was. Vanjaar is kommoditeite se volumes hoër, pryse lyk goed en as die rand begin verswak, is daar nog verdere potensiaal.

Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê die vernaamste uitvoerprodukte in die eerste kwartaal was tafeldruiwe, grondboonolie, mielies, wyn, wol, pruime, pere en appels. “Ons verwag dat hierdie produkte boaan die lys van uitvoer deur die loop van die jaar sal bly weens hoër produksievlakke.”

Hy sê die wynbedryf verwag byvoorbeeld ’n wyndruifoes van 1,5 miljoen ton, wat 9% hoër is as verlede jaar se oes. Terselfdertyd verwag die sitrusbedryf dat alle vorige uitvoerrekords oortref sal word met ’n geraamde 159 miljoen kartonhouers vanjaar teenoor verlede jaar se 146 miljoen kartonhouers. Daarby is daar ’n geraamde surplus van 2,8 miljoen ton mielies vir uitvoer.