Volgens Cape Wools se markkommentaar het die stygings plaasgevind hoewel die rand met 4,1% teenoor Amerikaanse dollar versterk het. Die mark het dus 8,8% beter gevaar in Amerikaanse dollarwaarde. 

 “Die veiling het baie goed verloop en die aanwyser is met 4,3% op, waaroor ons baie tevrede is,” sê mnr. Isak Staat, bestuurder van wol en bokhaar by BKB. “Op die stadium lyk dit asof die wolmark herstel.”

Hoewel daar nie in die ooreenstemmende tyd ’n Australiese veiling aangebied is nie, het die Suid-Afrikaanse mark die stygende neiging gevolg wat die mark in Australië einde verlede jaar gevolg het.

Die veilingskedule het ’n week vroeër hervat nadat die laaste veiling van 2019 weens logistieke kwessies afgelas is.

Luidens die Cape Wools-verslag was daar goeie mededinging in sommige mikrongroepe wat beter as die mark vertoon het. Altesaam 12 581 bale is aangebied waarvan 96,1% verkoop is.

Staats benadruk dat volhoubare wol goed verkoop het en premies verdien het.

Markvooruitsigte

Amerika en China het oor die naweek aangekondig dat hulle vandeesweek ’n fase een-handelsooreenkoms sal bespreek.

Volgens die Australiese landboutydskrif Stock and Land is die verwagting dat hoë volumes tekstielprodukte aanvanklik vanuit China na Amerika uitgevoer sal word sodra tariewe verminder of laat vaar word. 

Dit sal lei tot die drastiese vermindering in voorraad wat nog teruggehou word en die werking van die normale voorsieningsketting verstop het. Op sy beurt sal dit lei tot meer bestendige kontantvloei in die hele wolketting.

Reënval bring hoop

Wollewering is tans heelwat laer en volgens Staats word die uitwerking van die droogte nou gesien. Hy verwag dat wollewering vir die res van die seisoen laer gaan wees, maar hy kan nie sê hoeveel dit laer sal wees nie. Staats sê dit hang af van die boere se vermoë om hul diere tydens die droogte te kan voer.

“Dele wes van Cradock in die Oos-Kaap het baie skade gekry, maar dit het darem gereën. Maar al lyk dinge beter, reën dit nie gras nie.”