Mnr. Chris Schutte, direkteur van Sonfin, sê vier van sy kliënte het sulke krediete gekry en nog een sal dit binne ’n maand of twee begin kry.

Sonfin installeer sonstelsels vir boere waarmee hulle krag wat hulle nie dadelik gebruik nie, op die Eskom-netwerk kan opberg.

Terwyl die betrokke boere nou die vrugte begin pluk van die miljoene rande wat hulle in sonkragtoerusting belê het, is daar talle ander boere wat met die hande in die hare sit omdat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ’n stok in die wiel van hul koppeling aan die Eskom-netwerk gesteek het deur te sloer met die inwerkingstelling van ’n registrasieproses vir kragopwekkers kleiner as 1 MW.

Schutte sê die eerste stap vir enige boer om so ’n projek aan te pak, is om by Eskom vas te stel of sy betrokke gebiedsnetwerk die bykomende krag kan hanteer. Dié voetwerk het Sonfin gedoen toe hy in 2015 met die eerste van sulke projekte vir boere begin het.

Nadat Eskom aanvanklik die groen lig gegee het, het hy later gesê boere moet eers ’n lisensie by Nersa kry.

Twee jaar lank baklei

Nersa het op sy beurt gesê boere moet eers wag, omdat die Departement van Energie die regulasies sou verander sodat kleiner sonplase nie lisensies nodig het nie en bloot by Nersa moet registreer.

“Ons moes deur die hele 2016 en 2017 baklei dat die regulasieverandering afgehandel word.” Die regulasies het uiteindelik op 10 November 2017 in die Staatskoerant verskyn.

Sonfin het ná ’n verdere opdraande stryd verlede Februarie daarin geslaag om 19 van sy kliënte by Nersa geregistreer te kry, toe altesame 32 sonplase geregistreer is.

Die volgende probleme het egter begin toe Sonfin verlede Maart nog nege aansoeke by Nersa ingedien het vir projekte wat Eskom reeds goedgekeur het. Vier daarvan was projekte wat, op grond van die Eskom-goedkeuring, intussen klaar gebou is: drie in Kakamas (Noord-Kaap) en een in Swartwater (Limpopo).

Nersa het sy deuntjie verander en gesê hoewel die vorige registrasies geldig bly, eers ’n registrasieproses ingestel moes word.

Die reguleerder het uiteindelik op 16 Desember 2018 ’n dokument, vir kommentaar teen 16 Januarie 2019, gepubliseer waarin hy die redes vir registrasie verduidelik en ’n tarief van R200 vir aansoekers voorstel.

Einde Maart

Schutte sê die proses sal hopelik einde Maart afgehandel word, tensy daar te veel ongunstige kommentaar is wat openbare raadpleging nodig sal maak.

Hy meen daar is grondige redes vir registrasie en dat die voorgestelde tarief geen beduidende impak op die lewensvatbaarheid van selfs baie klein sonkragstelsels sal hê nie. “Dit is eenmalig betaalbaar en meer ’n administratiewe as ’n finansiële las.”

Mnr. Ted Blom, energiekenner, sê Nersa is bekend daarvoor dat hy lank vat om prosesse af te handel. “Hy het te min personeel met kernvaardighede en te veel daarsonder.”

Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, sê dié organisasie het laat verlede jaar ’n brief aan mnr. Jeff Radebe, Minister van Energie, gestuur om te vra dat die registrasieproses spoedig ingestel moet word, maar hulle het nog geen reaksie ontvang nie.

Lees meer hieroor in die Landbouweekblad van 18 Januarie 2019 wat volgende week te koop sal wees. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.