Nampo word vanjaar weens die Covid-19-pandemie die eerste keer aanlyn van 9 tot 12 September aangebied.Mnr. Albert Loubser van Graan SA sê die lewendehaweprojekte wat deur die Alfa-span gekoördineer en aangebied word, was nog altyd deel van die skou se DNS en dit is uiters belangrik dat dié projekte voortgaan.

“Die goeie nuus is dat die meeste van die lewendehaweprojekte in ’n aanlyn formaat voortgaan. Die projekte sluit al die prestasiekampioenskappe, kompetisies vir al die produksiespesies, veilings en verskillende werksessies in.

“Daar is ook ’n paar nuutjies op die program soos ’n aanlyn kleinveeskou waaraan 10 kleinveerasse deelneem, ’n nasionale kleinveegroeitoets, ’n aanlyn interrasvleisbeesskou en ’n landbouskool-webinaar. Al die projekte vind hoofsaaklik in Oktober en November plaas.”

Hy sê hoewel ongunstige globale omstandighede vele probleme vir skoue soos dié bied, is dit belangrik om binne die landbou-omgewing aanpasbaar te wees en nuwe geleenthede te skep. “Die organiseerders van Nampo Alfa is vol vertroue dat die uitstallers steeds geleenthede tydens die aanlyn  Nampo-uitstalling kan benut en dat deelnemers aan die lewendehaweprojek, produsente en borge steeds die erkenning en prestige sal geniet wat die projekte histories gebied het.”

Kontak mnr. Albert Loubser by 082 562 2188 of albert@plaasmedia.co.za, of besoek https://nampovirtual.co.za/ of https://nampoalfa.co.za/ vir nog inligting.