Mnr. Julius Malema, leier van die EFF, het half langtand aan die debat op die staatsrede deelgeneem. Hy het gesê daar is geen staatsrede om te debatteer nie en dat Ramaphosa geen plan het nie.

Hy het Ramaphosa ook daarvan beskuldig dat hy nie dapper genoeg was om die ANC se verkiesingsbeloftes oor onder meer grond in sy staatsrede te noem nie. “Ons mense gaan deelneem aan ’n ongeleide revolusie, want daar sal ’n bakleiery wees vir wat regmatig aan hulle behoort.”

Malema het gesê dat die EFF die ANC gewaarsku het dat die grondkwessie nie gebruik kan word om mense aan te moedig om in die verkiesing te stem nie, want dit is ’n emosionele kwessie. “Ons sal nooit die maatskaplike euwels in ons samelewing oplos as ons nie die grondkwessie oplos nie. As ons nie die patrone van die eienaarskap van eiendom in Suid-Afrika verander nie, sal wit mense aanhou dink dat hulle beter is, want hulle besit die middele tot produksie.”

Hy het benadruk die eerste praktiese stap om goeie lewensgehalte vir swart Suid-Afrikaners te verseker, is om hulle grond terug te gee. “Ons moenie die aftog blaas in ons pogings om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding toe laat nie.”

Bespoedig titelaktes

Mnr. Mmusi Maimane, leier van die DA, het voorgestel dat eienaarskap van eiendom aan die miljoene Suid-Afrikaners gegee moet word wat van hul grond ontneem is. Hy het gesê titelaktes moet bespoedig word, sodat elke landsburger kan voordeel trek uit die eienaarskap van eiendom. “Dit sal sekerheid in die landbousektor meebring wat meer werksgeleenthede vir ons mense sal bied.”

Mmusi Maimane,
Mnr. Mmusi Maimane, DA-leier. Foto: GCIS

Alle Suid-Afrikaners moet toegang hê tot die voordeel om private eiendom as ’n ekonomiese bate te besit wat toelaat dat rykdom van een generasie na die volgende oorgedra kan word. Ramaphosa sal Woensdag repliek op die debat lewer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.